Die breinvliesgewas wat die aktrise en komediant Marion Holm se sig beïnvloed het, is nie kwaadaardig nie.

“Toetsuitslae het bevestig dat dit nie kanker is nie,” het Marion se agent Nelius Ferreira in ’n verklaring gesê wat ook op haar Facebookblad gedeel is. “Dit gaan baie goed met Marion en die herstelproses na die operasie moet nou sy loop neem.”

Marion, wat dikwels gehore vermaak met haar eenvrou-vertonings en ook te sien was in die kykNET-televisiereeks Vlug na Egipte, het verlede week vir ’n operasie gegaan sodat dié breinvliesgewas verwyder kon word.

Sy het in ’n lang Facebook-inskrywings aan haar aanhangers en vriende verduidelik waarom sy haar vertonings vir die volgende paar maande moes kanselleer.

“Ek het gegaan vir ’n oogtoets om ’n nuwe bril te kry, omdat my linkeroog so verswak het. Toe stuur die optometris my na ’n oogspesialis en die stuur my vir ’n MRI en daar sien ons toe ek het ’n ‘meningioma’. Dis die Engelse woord wat in Afrikaans beteken ek het ’n breinvliestumor wat op die senuwee en bloedtoevoer van my linkeroog druk,” het Marion in haar Facebook-inskrywing verduideik.

Sy het ook verduidelik waarom sy vroeër vanjaar ook van haar optredes moes kanselleer: “Ek het borskanker gehad. Maar dit was so klein en so vroeg opgetel, dat dit net uitgesny is en ek net bestraling gekry het. Ek het nie ’n mastektomie gehad nie en ek het nie chemoterapie gekry nie. Ek voel dus net dankbaarheid. Dankie Vader, dankie, dankie, dankie.”

Marion se aanhangers en vriende het aangehou om haar op sosiale media sterkte toe te wens. Hulle is ook baie verlig oor die dat die breinvliestumor nié kanker is nie.

“Wonderlike nuus!! Gou gesond word, Marion,” het ene Donna Tolken op Marion se Facebookblad geskryf. Marion is vir "drie maande afgeboek" om te herstel.

Nelius sê Marion se aanhnagers kan haar vroeg volgende jaar weer op die verhoog verwag met ’n nuwe vertoning.