Die Amerikaanse dokter wat in Liberië Ebola opgedoen het, het herstel en gaan uit ’n hospitaal in Atlanta ontslaan word, het ’n hulporganisasie Donderdag gesê.

Kent Brantly (33) gaan vanmiddag omstreeks drieuur saam met dokters by die Emory-universiteitshospitaal met die media praat, het die hospitaal in ’n verklaring gesê.

Die voorsitter van die Christelike sendelinggroep waarvoor Kent in Liberië gewerk het, Samaritan’s Purse, het die dokter se “moedige gees” geprys. Hy het die siekte beveg wat sedert Maart 1 350 lewens in Wes-Afrika geëis het.

“Vandag staan ek saam met ons Samaritan’s Purse-span oor die wêreld heen en dank God vir dr. Kent Brantly se herstel van Ebola en ontslag uit die hospitaal,” het Franklin Graham gesê.

“Ek het oor die afgelope paar weke dr. Brantly se moedige gees bewonder soos hy hierdie aaklige virus met die hulp van die uiters bekwame en sorgsame personeel by die Emory-universiteitshospitaal beveg het.”

Die hospitaal het gesê die dokters sou ook die media inlig oor die ontslag van Nancy Writebol (60), ’n ander Amerikaanse sendeling wat daar vir Ebola behandel word.

Haar seun het gesê haar gesondheid verbeter, maar dit is onbekend of sy gereed is om Donderdag die hospitaal te verlaat.