Die 34-jarige dokter is aangekeer nadat besorgde inwoners die owerheid ingelig het, het die polisie Donderdag gesê.

Luit.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, sê die inhegtenisneming van die dokter was deel van die provinsie se optrede teen dwelmhandelaars. 

“In die Waterval-polisiëringsgebied buite Louis Trichardt het die polisie (Woensdag) ’n . . . dokter wat aan die plaaslike hospitaal verbonde is, tydens ’n taktiese klopjag in hegtenis geneem,” sê Ngoepe.

“Inligting is opgevolg wat die polisie gelei het na ’n huis waar die dokter en sy 27-jarige medepligtige in hegtenis geneem is.”

Tydens die inhegtenisneming is nege sakkies nyaope, vier rocks, twee rookpype en ’n onbekende hoeveelheid dagga gevind. 

Op Lebowakgomo buite Polokwane is ’n 28-jarige verdagte in hegtenis geneem nadat beamptes op dwelms van R14 850 en R1 302 kontant beslag gelê het. 

In die Mahwelereng-sektor het die polisie vier verdagtes van 27 tot 54 jaar in hegtenis geneem vir die besit van en handel dryf in dagga. 

Altesaam 111 sakkies dagga met ’n straatwaarde van R2 220 en R3 000 kontant is gekonfiskeer.

“Die klopjagte sal voortdurend uitgevoer word om die geraakte gebiede van die euwel te bevry,” sê Ngoepe.

Die aangekeerdes sal binnekort in verskeie howe verskyn. 

Wat is nyaope?

Die dwelmmiddel nyaope word sedert 2010 taamlik wydverspreid in Suid-Afrika gebruik. Dit was aanvanklik veral gewild in die arm townships van Durban, maar kom ál wyer voor. Die hoofbestanddeel is heroïen, wat dikwels saam met dagga gerook word. Volgens die polisie voeg handelaars allerhande middels by om die dwelm as’t ware lyf te gee. 

-News24