Conrad Murray het gehuil toe hy hoor ’n jurie het AEG Live onskuldig bevind in die hofsaak oor die dood van die popster Michael Jackson.

Die dokter dien tans gevangenisstraf uit vir manslag weens die popkoning se dood in Junie 2009 aan ’n oordosis propofol. Conrad het emosioneel geraak toe hy hoor die konsertpromotor is op Woensdag 2 Oktober onskuldig bevind. Michael se ma, Katherine, het die hofsaak aanhangig gemaak. Sy het gevoel AEG Live was nalatig toe hulle Conrad aangestel het en het dus ’n rol gespeel in Michael se dood.

Brandon Keith Phillips, voorsitter en bestuurshoof van AEG Live, het in Oktober 2011 in die hofsaak teen Conrad getuig. AEG Live besit die Staples Center in Los Angeles en The O2 Arena in Londen, waar Michael sou optree. Conrad voel nou sekere inligting wat voorheen nie in die kriminele hofsaak bekendgemaak is nie, het in hierdie siviele saak na vore gekom. Dit werp volgens hom nuwe lig op die gebeure.

Conrad het op Donderdag 3 Oktober in ’n telefoniese onderhoud uit die Los Angeles County Jail aan die NBC-program Today gesê: “Ek het gehuil, want eindelik is die wêreld toegelaat om van die feite oor hierdie saak te hoor – baie van die feite wat onderdruk is, baie feite my prokureurs nie tydens my kriminele hofsaak kon voorlê nie. Ek was baie verlig dat die wêreld eindelik van dié feite kon hoor.”