Waag dit om enigiets oor Justin Bieber se partytjies in die openbaar of sosiale media te verklap en hy sal jou vir R48 miljoen dagvaar.

Die sanger van die treffer Beauty and a Beat vra almal moet ’n dokument onderteken voor hulle sy huis in Calabasas, Kalifornië, binnekom wat hulle verbied om enige inligting oor wat in sy huis aangaan, deur sosiale media bekend te maak. As hulle die ooreenkoms verbreek, sal hulle aanspreeklik wees vir skadevergoeding.

Volgens TMZ het die 19-jarige popster seker gemaak die regsdokument beklemtoon dat niemand mag skinder oor die “gesondheid of die filosofiese, geestelike of ander sienings of karaktereienskappe van enige partytjiegangers nie”.

Gaste word vooraf gewaarsku deelname aan die aktiwiteite in die herehuis van sowat R62,5 miljoen kan “potensieel gevaarlik wees en jy moenie deelneem tensy jy medies in staat en behoorlik opgelei is nie, anders kan jy deur geringe tot katastrofiese beserings, waaronder die dood, in die gesig gestaar word”.

Die tiener-hartebreker het glo besluit om die regsdokumente te laat opstel nadat sy vriend, die rapper Lil’ Twist, ’n partytjie by sy huis gereël en 40 mense genooi het terwyl hy op sy Believer-toer was.

Talle bekendes volg die praktyk om hul privaatheid te beskerm.