Rabdomiosarkoom, ’n tipe kinderkanker wat die weefsel en been affekteer, is op 23 Junie by die sewejarige Hayley gediagnoseer. ’n Gewas is in die sagte weefsel agter haar neus ontdek en dit het haar neusholte gevul, berig The Huffington Post.

Die kanker het een van die meisie se oë, asook haar brein geraak en dokters het aanbeveel dat sy so gou moontlik chemoterapie kry. Sy het twee dae ná haar diagnose haar eerste dosis ontvang.

Haar mooi, lang hare het kort daarna begin uitval – maar haar wimpers het langer gehou voor hulle ook later uitgeval het. Maar ’n enkele wimper het agtergebly. Hayley se pa, Andrew Brown, het ’n foto daarvan geneem as simbool van hoop te midde van sy dogter se lyding.

“Baie mense, ook haar ousus, het regdeur die behandeling gesê hulle is so jaloers op haar mooi, lang wimpers,” het Andrew vertel aan Kidspot.

“Maar toe kla sy eendag daar is iets in haar oog. Die wimpers het een op ’n slag uitgeval.”

Almal behalwe een. Andrew sê die roerende foto wys hoe lank en welig Hayley se wimpers was. “Dit was ’n hartverskeurende oomblik toe ons besef hulle gaan almal uitval, maar toe ons sien een bly agter, was dit ’n herinnering aan wat sy deurgemaak het.”

Die foto is aanlyn gedeel en talle gebruikers het hul hart vir Hayley en haar gesin oopgemaak. “Ek het verwag dat die gewone paar mense kommentaar sou lewer en op die foto op Facebook sou reageer,” sê hy. “Ek het nie meer as dit verwag nie.”

Andrew sê hoewel die ondersteuning “ongelooflik” was, het Hayley ’n “rowwe week” agter die rug en hoewel hy vir haar probeer sê daar is honderde mense wat haar ondersteun, was sy te siek om veel daarvan kennis te neem.

Maar hy is optimisties dat sy gaan herstel. En dat daardie wimper, wat eindelik ná drie weke uitgeval het, saam met die ander sal teruggroei.