[caption id="attachment_159420" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Sy is die dogter van Reinette Erasmus (49), wie se borskas na bewering erg vermink is tydens rekonstruksie in ’n staatshospitaal. Weens borskanker het sy ’n dubbele mastektomie ondergaan en geld bymekaargemaak sodat sy haar borste kon laat rekonstrueer.

Maar dié besluit het in ’n nagmerrie ontaard. “My ma huil sedert November elke dag,” vertel Natasha uit Witbank, waar hulle Reinette versorg tot sy by ’n ander hospitaal ondersoek kan word.

“Sy drink pynmedisyne,” voeg Natasha by. Eintlik is die sielkundige pyn die ergste.

“Waar haar linkerbors eers was, is haar ribbebeen sigbaar,” vertel Natasha oor die foon. ’n Mens kan aan haar stem hoor hoe traumaties die ervaring is.

In Augustus 2014 is borskanker by Reinette en ook by haar ma, Maryna van der Heyde (67), gediagnoseer. En net ’n bietjie meer as ’n week voor Reinette se diagnose is haar pa, Batie van der Heyde (67),  ná ’n lang stryd teen longkanker begrawe.

Weens kwaai depressie en trauma kon Reinette nie dinge verder verwerk nie en het sy begin spaar vir ’n borsrekonstruksie in November verlede jaar. Om beter te probeer voel . . . Prokureurs stig op die oomblik ’n trust om geld in te samel, maar dit sal ’n rukkie neem.

“In daardie hospitaal het my ma in haar eie bloed en uriene gelê,” vertel Natasha. “Geen mens moet so behandel word nie.”

Haar ouers het nie op daardie tydstip tot ’n mediese fonds behoort nie. Hulle het hul huis verkoop om te kon betaal vir ’n dubbele mastektomie, sê Natasha.

Daar was nie tyd om te mors nie, want Reinette het die aggressiewe soort borskanker gehad. “Jy kon my ma altyd deur ’n ring trek. Goed versorg en trots op haar voorkoms.

“Ná die mastektomie het sy ’n lae selfbeeld ontwikkel, want sy het geskend gevoel. Sy wou so graag rekonstruksie ondergaan,” vertel Natasha.

Sy het maande lank gespaar tot sy kon betaal vir haar prosteses en die tyd in ’n staatshospitaal wat bereid was om haar te help.

In November het sy vir die dubbele borsrekonstruksie gegaan. Die latissimus dorsi-spier links agter op haar rug is gebruik om die flappe vir albei borste te kry. Weens bestralingskade het die linkerborsrekonstruksie misluk, sê Natasha.

Nekrose (weefsel wat doodgaan) het ingetree en die flap aan Reinette se linkerbors het begin swart word. Sy is glo eers ’n week nadat hulle dit gesien het terug teater toe, waar die dooie dele verwyder en die vel saamgetrek is.

Sy het die pseudomonas aeruginosa-bakterie opgedoen en vier weke lank is gesukkel met suigmasjiene (wat wonde vinniger laat genees), salf, verbande . . . “Dan is daar nie ’n vac-masjien beskikbaar nie. Dan kan sy nie teater toe gaan vir debridement (wegsnyding) nie, want daar is nie plek vir haar nie. En so gaan die lys aan,” vertel Natasha.

Die wond is na bewering met steke toegedwing en die vel gerek. Weens bestraling, wat die vel styf kan maak en bloedvate kan beskading, was alle bloedtoevoer afgesny.

“Binne ’n dag was dit dood. Alles het swart geraak. Teen dié tyd was sy te swak vir narkose en moes hulle die steke kom losmaak en die swart vel kom afknip terwyl sy wakker was . . . Sy is emosioneel gebreek.”

Natasha het ’n chirurg gekontak. Dié het gesê net ’n plastiese chirurg kan nou help. “Ons het nie die geld nie. Omdat haar bloedvate weens die bestraling so erg beskadig is, kan ’n gewone veloorplanting nie gedoen word nie. So die vel sal nie kan lewe nie . . .”

’n Chirurg in Kaapstad het aangebied om Reinette gratis te operereer, maar die gesin sal vir die hospitalisasie moet opdok.

“Al wat sy wil hê, is om pynvry te wees en ’n gesonde borskas te hê,” vertel Natasha. “Sy stel nie eens meer belang in rekonstruksie nie.”

’n Versameling foto’s in Huisgenoot se besit skets die grusame verhaal. Ons het drie foto’s geredigeer om die ontstellende aard van die foto’s te versag en het die meeste van die foto’s nie gepubliseer nie.

Sensitiewe lesers kan wel steeds hierdeur ontstel word.

[post-slider]