'n Jong meisie het by 'n strand in Doebai verdrink omdat haar pa nie wou toelaat dat "vreemde mans" aan haar raak nie.

"Ek sal nie hierdie insident kan vergeet nie," het lt. kol. Ahmed Burqibah van Doebai se polisie-afdeling vir soektogte en reddingspogings aan Emirates 24/7 gesê.

"Dit het my en baie ander mense wat by die saak betrokke is geskok."

Volgens die beampte het die onbekende man sy vrou en kinders see toe geneem vir 'n piekniek.

"Die kinders het geswem toe die 20-jarige dogter begin verdrink het en om hulp geroep het."

Twee lewensredders het haar te hulp gesnel, maar haar pa het verhoed dat die lewensredders haar help.

"Die man, wat van Asiatiese afkoms is, het geglo dat as hierdie mans aan sy dogter raak, sal dit haar eer beskadig. Dit het hom sy dogter se lewe gekos."

Teen die tyd wat die lewensredders die pa kon oorrompel om die dogter te help, het sy reeds verdrink.

"Die pa was 'n lang, sterk man. Hy het [ons] weggetrek en die reddingspoging in die wiele gery en aggressief geraak teenoor die reddingswerkers," het lt. kol. Burqibah gesê.

"Hy het gesê hy sou verkies dat sy dogter dood is eerder as wat 'n vreemde man aan haar raak."

Die jong vrou se pa is later inhegtenis geneem en regstappe word na bewering geneem.

Bronne: Emirates247.com, metro.co.uk