Susan Cloete (35) het Woensdag vertel haar ma, Susan van Rooyen, is tans in ’n kritieke toestand in die intensiewesorgeenheid van die Leratong-hospitaal waar sy aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel is.

Susan vertel die dokters hou haar ma, die ouma van ses kleinkinders, onder sterk verdowing vir die pyn en het paraffien-gaas oor haar omvangryke wonde geplaas. Susan se suster, Norina van Zyl (33), woon op Bethal, Mpumalanga, en kon weens vervoerprobleme nog nie by hul ma uitkom nie.

Maar Susan vermoed sy is te bang om haar ma so te sien.

Susan vertel sy het haar ma 50 minute voor die voorval gesien, wat Maandagmiddag net ná vier voor ’n drankwinkel in Unionstraat in Randgate, Randfontein, plaasgevind het.

“My ma is by die huis weg om te gaan werk soek. Sy was toe nog heeltemal rustig. Ek glo sy wou net so graag op haar eie voete staan en nie meer afhanklik van ander wees nie. Ek dink sy was baie gefrustreerd (met haar omstandighede).” 

Susan vertel bipolêre gemoedsteuring is ’n tyd gelede by haar ma gediagnoseer. “Ek het my ma baie goed geken. Wanneer ek sien sy is nie lekker nie, dan het ek haar uitgelos.” 

Sy vertel wanneer haar ma nie by haar aan-af-vriend van die afgelope sewe jaar gebly het nie, het sy by haar ingewoon. Sy het weer van 1 Julie by hom gaan bly. Hy is werkloos en sy moes van ’n karige ongeskiktheidspensioen oorleef. 

Susan vertel sy het eerstehands ervaar hoe haar ma se gemoed wipplank kon ry. “Die een oomblik sou sy fine wees, maar die volgende oomblik in woede uitbars.”

Tydens dié uitbarstings het sy gereeld gesê: “Ek wil sommer doodgaan; wat soek ek nog hier?” Maar Susan het glad nie die selfdoodpoging Maandag verwag nie.

Haar ma het sowat 2 L petrol oor haarself uitgegooi en haar toe aan die brand gesteek. ER24-woordvoerder Russel Meiring het kort ná die voorval aan Huisgenoot gesê Susan het ernstige brandwonde aan haar nek en gesig opgedoen. Hulle het haar op die toneel eers gestabiliseer en toe na Leratong gebring. 

Susan vertel toe sy haar ma by die hospitaal sien, kon sy haar glad nie dadelik herken nie.

“Sy was oral net pienk en wit,” vertel sy oor haar ma se wonde.

Susan vertel hulle enigste hoop nou is dat haar ma sal herstel. Sy vertel haar ma is baie goed met haar hande. “Sy is baie goed met naaldwerk. Sy het soms werk vir mense gedoen sonder om enigiets terug te verwag.

*Enigeen wat angs, depressie of selfdoodgedagtes ervaar, kan die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se noodlyn 0800-567-567 of 0800-12-13-14 bel.