Lori Harris (27), van Durham in Engeland, het sowel haar motor as die huis wat sy met haar ma, Lisa (46) deel, verkoop.

Kanker van die eierstokke is nege jaar gelede by Lisa gediagnoseer. Die kanker het versprei en in 2015 het die dokters gesê sy sou nog net twee jaar leef.

Dinge het in Januarie vanjaar vererger toe die dokters vir Lisa die ernstige tyding gee dat sy heel moontlik nie langer as agt weke gaan leef nie.

Maar Lori, ’n student aan King’s College in Londen, het geweier om moed op te gee.

Sy kom toe af op kanker-immunoterapie, ’n behandeling wat nie in Engeland beskikbaar is nie.  Die ma en dogter gaan nou elke drie weke Duitsland toe sodat Lisa die behandeling kan kry.

’n Vrou het al haar besittings verkoop om vir haar ma se kankerbehandeling te betaal. Foto: Facebook/ Lori Harris

Die immunoterapie, wat volgens die dokters die kwaadaardige gewasse in haar liggaam met die helfte verklein het, kos ongeveer R500 000.

“My ma het ongelooflike resultate gekry en die dokter het verlede week gesê sy is ‘feitlik in remissie’ en, as geld nie ’n kwessie was nie, kon ek haar vroeër of later in remissie kry’,” het Lisa op die GoFundMe-bladsy geskryf wat sy begin het om geld in te samel vir haar ma se behandeling.

“Ons het ons huis en albei ons motors verkoop en al die geld in haar aftreefonds bestee.”

Sy het ook bygevoeg sy het niks meer oor om te verkoop nie, maar sy gaan voort, vasbeslote om haar ma se lewe te red.

“Ek self skuld R878 600 (£50 000). Ek het niks meer oor wat ek kan verkoop nie, maar dis wat ek moet doen, ek sal dit nooit laat vaar nie. My ma beteken vir my meer as enigiets wat ek ooit sou kon besit.”

Bronne: mirror.co.uk,chroniclelive.co.uk, gofundme.com