Die jong skooljuffrou het ’n heerlike vakansie by haar gesin  in Johannesburg deurgebring, en nou was sy op pad terug na haar nuwe lewe in Namibië aan die sy van haar droomman – hulle was pas getroud – en haar nuwe werk as gr. 5-onderwyseres in die pragtige woestynland.

Daar was vrede in haar hart.

Pa het hulle bederf met sy spesialiteit,’n rooiwyn-potjie. Haar broer was druk besig met sy universiteitseksamen, maar tussendeur het hulle as gesin saam flieks gekyk of snoeker en bordspeletjies gespeel.

Dit was amper soos in die ou dae, voor ’n rugbybesering haar broer verlam gelaat het.

Hulle was amper weer gelukkig. “Dankie vir ’n heerlike vakansie,ek is lief vir julle. Sien julle gou weer,” het Anlie van der Merwe (24) nog op die stasie vir haar ouers gesê voor sy die trein na Namibië gehaal het.

Maar skaars ’n week later was alles aan skerwe. Haar pa, Ben Engelbrecht, het in die vroeë oggendure van 27 Mei vermoedelik eers sy vrou en toe sy seun in hul beddens met ’n serp verwurg, en homself toe in sy motor probeer vergas.

Sy broer Stoffel het hom daar gekry, in sy motor by hul huis in Linden, die swembadpyp nog aan die uitlaatpyp gekoppel.

Nou vertel Anlie in ’n openhartige telefoononderhoud uit Windhoek van die duiwels van depressie en dobbelverslawing wat haar pa sedert Kobus se ongeluk gery het.

Lees meer in die Huisgenoot van 23 Junie. 

Volg Huisgenoot op Twitter.