Vir party mense word dit nooit ’n werklikheid nie, maar die roerende verhaal van Betty Morrell en haar ma, Lena Pierce, bewys enigiets is moontlik.

Lena Pierce was ’n skrale 14 jaar oud toe sy swanger raak. Op 11 Februarie 1933 het klein Eva May in ’n hospitaal in Utica, New York, die eerste lewenslig aanskou. Ses maande later het staatsamptenare besluit Lena is te jonk om haar eie kind groot te maak.

Eva May is aangeneem en haar naam is na Betty Morrell verander. Die egpaar wat Betty aangeneem het, is dood toe sy in haar 20’s was. Sy was hul enigste kind en het in Long Island, New York, grootgeword.

“Ek het denkbeeldige broers en susters gehad. Hulle het name gehad en ek het snags met hulle gesels,” vertel Betty.

Lees ook: Vrou skrik uit koma wakker – nádat sy geboorte gee

Nadat sy verplig was om van Betty afstand te doen, het Lena twee keer in die huwelik getree en nog sewe kinders gehad. Maar sy het nooit van Betty, haar eersgeborene, vergeet nie.

Een van Lena se dogters, Milly Hawk, het gesê: “Sy het haar gebad, haar doeke geruil en vir haar lief geword.”

“Daar was soveel tye wat ek bekommerd was oor haar en gewonder het waar sy is,” het Lena aan WBNG gesê. “Sy het grootgeword; ek het oud geword.”

Maar hoe het Betty en Lena mekaar gevind?

Talle struikelblokke het Betty se soektog van vyf dekades na haar biologiese ma gekniehalter. Maar eendag het een van Betty se tannies haar mond verbygepraat en gesê haar eintlike naam is Eva. Die tannie het ook geweet Betty is in ’n hospitaal in Utica gebore.

Betty het die twee hospitale in Utica gebel, en die tweede hospitaal het bevestig ’n meisie genaamd Eva May is daar gebore. Sy het die hospitaal oortuig om haar geboortesertifikaat aan haar te stuur.

Danksy die internet en die hulp van haar kleindogter het Betty op ancestry.com nog inligting bekom. So het sy Milly opgespoor, die volgende skakel in haar soektog na haar ma.

“Daar was geen verbintenis nie. Niks wat my aan enigiemand gebind het nie. En toe ek hoor sy (my ma) lewe nog en ek het met haar oor die telefoon gesels . . . Wel, toe is alles weg. My lewe is nou vervul,” sê Betty.

Vir Lena is alles onwerklik. “Ná al die jare gaan ek eindelik weer my dogter sien. Ek wil sê dit gaan ’n pragtige dag wees, die dag waarop ek my dogter weer sien.”

Lees ook: Snuffelhond red bejaardes van geldelike nagmerrie

15 Januarie 2016 was inderdaad ’n pragtige dag toe ma en dogter mekaar vir die eerste keer in 82 jaar in die oë kon kyk en omhels.

“Ek is nie meer alleen nie. Ek het my ma, susters en broers. Dis onwerklik, maar so wonderlik om ná al die jare weer bymekaar te wees,” het ’n emosionele Betty gesê.

Bronne: edition.cnn.com, wbng.com

– Saamgestel deur Annelene Oberholzer