Niks sal hulle ma ooit kan terugbring nie, sê Lizelle.

Vyf tieners, almal leerders aan die Westview Spesiale Skool in Newton Park, Port Elizabeth, is reeds in hegtenis geneem vir die kaping-moord op Magda (53). Hulle is almal tussen 15 en 16 jaar oud.

Magda het Maandagmiddag by haar ma, Sally Potgieter (83), in Diazweg, Port Elizabeth, gekuier om vir haar kruideniersware te vat.

Sy het net voor 15:00 haar ma gegroet en in haar goue BMW geklim toe een van die verdagtes, geklee in sy skooluniform, na haar motor geloop het.

Die verdagte het Magda glo uit die motor getrek en haar in die rug geskiet. Hy het in die motor geklim en weggejaag. Die vier ander leerlinge, almal in hul uniforms, het in verskillende rigtings weggehardloop.

Volgtens ooggetuies het die vyf leerlinge in 'n nabygeleë veld gesit en kuier.

Sally het by die voordeur gestaan en het die hele toneel sien gebeur. Sy moes toekyk hoe haar enigste dogter op haar maag in die pad in 'n plas bloed lê.

Sally se versorger, wat nie haar naam wil noem nie, het na Magda gehardloop en die polisie ontbied. Magda is later die dag in die Livingstone-hospitaal dood.

Die eerste twee verdagtes, 'n 16-jarige seun en 15-jarige meisie, is daardie aand by 'n vulstastie in Blouwater Baai met Magda se BMW in hul besit aangekeer.

“Ons sukkel om haar dood te verwerk,” het Lizelle aan Huisgenoot gese. “My pa sê hy weet nie hoe hy sonder my ma sal kan leef nie.”

Pieter en Magda was 33 jaar getroud.

[caption id="attachment_136999" align="alignnone" width="476"]Magda saam met haar man, Pieter. Magda saam met haar man, Pieter.[/caption]

“Ek onthou nog ons laaste gesprek. Ons het oor allerdaagse dinge gesels. Sy was die ongelooflikste mens wat ek geken het en dit gaan moeilik wees om aan te gaan sonder haar…”

Die verdagtes verskyn eersdaags in die kinderhof in Port Elizabeth op aanklagte van kaping, moord, die onwettige besit van 'n vuurwapen en vir die diefstal van die BMW.