Dit het Sondag bekend geword dat Walter van der Riet (73) Saterdagaand vanweë brandwonde in 'n hospitaal in Port Elizabeth beswyk.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het bevestig dat Walter se vrou, Myrna van der Riet (72) Saterdag omstreeks 17:00 gesterf het.

Vroeër vandag

“Rondom 17:00 Saterdagmiddag het ’n 72-jarige vrou op hul plaas in die Thornhill-gebied gesterf. Haar man is met brandwonde in ’n Baaise hospitaal opgeneem,: het kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, gesê.

Nooddienste is in die omgewing ontplooi en die polisie stel verder ondersoek in.

Sy het ook aangedui dat vernietigende brande in die omgewing van Humansdorp, Jeffreysbaai en Port Elizabeth woed.

Die Woodbridge-kollege buite Port Elizabeth is ook deur die brand vernietig.

’n 63-jarige man van die gedeeltelike informele nedersetting Concordia naby Knysna het ook gesterf. Dit bring die totaal sterftes in die gebied op ses te staan.

’n Gesin van drie het Woensdag gesterf, ’n klein seuntjie Donderdagoggend en ’n brandbestryder Vrydag.

James-Brent Styan, woordvoerder van die Wes-Kaapse plaaslike regering, het ook bekend gemaak dat vyf mense in ’n kritieke toestand verkeer nadat hulle ernstige brandwonde opgedoen het tydens ontruimings.

Die wind, wat Saterdag by tye 97 km per uur gehaal het, het verskeie kere die vlamme al hoe verder op- en aangejaag.

Mense wat deur die ontruiming geraak is en nou by vriende en familie gehuisves word, word dringend versoek om Mosiuoa Ngaka van binnelandse sake by 072 621 5047 te bel of ’n e-pos aan mosiuoa.ngaka@dha.gov.za te stuur.

Bron: news24.com