Volgens EWN het die polisie nou bevestig dat twee vermeende kapers by die gru-ongeluk betrokke was. Luidens berigte wou die polisie ’n motor wat verdag voorgekom het, stop. Maar die verdagtes het weggejaag en teen die verkeer ingery. Hulle het tromp-op met ’n ander motor gebots.

Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het bevestig dat vier mense gesterf het. Twee vermeende kapers tel onder die oorledenes.

Vroeër vandag

Een van Netcare 911 se paramedici, wat in daardie stadium op die roete was, het aangedui dat daar ’n verkeersopeenhoping op die M1 by Marlboro-rylaan net verby die Woodmead-afrit was.

Volgens Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, het ’n motoris op die snelweg omgedraai en reg teen die verkeer ingery.

Dit is in hierdie stadium nog nie bevestig of dit wel hierdie optrede was wat die verkeersopeenhoping veroorsaak het nie. Een van die voertuie wat in die verkeersopeenhoping tot stilstand gedwing is, was 'n afleweringsvoertuig. Dit is deur die voortsnellende vragmotor getref. Twee mans was vasgekeer in die vragmotor se wrak. Reddingsbeamptes en brandweermanne van Sandton moes meganiese kake inspan om die beseerdes uit die wrak te bevry. Dié ongeluk het tot twee sekondêre ongelukke gelei.

Nog drie ander is beseer.
Botha het Sondagoggend bevestig dat die dodetal van die gru-ongeluk nou tot vier gestyg het.
Intussen word berig dat ’n man in hegtenis geneem is in verband met die ongeluk. Hy word aangekla van kaping, strafbare manslag en nalatige bestuur.