Ten spyte hiervan het Taiwannese beamptes Donderdag gestaan by die klaring wat hulle die vliegtuig gegee het om te land.

Vlug GE222 het 54 passasiers en vier bemanningslede aan boord gehad toe dit Woensdag by Magong op die Penghu-eilandreeks neerstort. Net 10 mense het oorleef. Twee Franse mediese is onder die oorledenes, het die departement van buitelandse sake in Parys gesê.

Volgens die owerheid het die ATR72-500 van die stad Kaohsiung in die suidweste na die eilande aan die weskus gevlieg. Slegte weer het die vlug vertraag omdat die land gebuk gaan onder tifoon Matmo.

Die vliegtuig het ’n tweede keer probeer land nadat die donderweer en reën die eerste poging onderbreek het. Volgens beamptes het dit twee huise naby die lughawe getref en vyf mense op die grond beseer.

Vrae is gelug oor hoekom die vlug so gou ná die tifoon klaring gekry het. “Baie mense bevraagteken hoekom die vliegtuig in tifoontoestande opgestyg het. Soos ek verstaan, het die meteorologie-data getoon dit voldoen aan lugvaartveiligheidsvereistes,” het die minister van vervoer, Jeh Koeang-sjih aan verslaggewers gesê.

Beamptes het gesê twee vliegtuie het kort voor die ramp veilig by die lughawe geland.

Donderdag was die wrakstukke van die vliegtuig sigbaar terwyl meer as 100 reddingswerkers, insluitend brandweermanne en soldate, lyke en puin van die toneel verwyder het. Dit is onduidelik of al die lyke van die toneel verwyder is.

Dosyne familielede, insluitend bejaardes en kinders, het huilend by ’n nabygeleë begrafnisondernemer gewag om te verifieer of hul naasbestaandes in die ongeluk omgekom het.

Vrywilligers het hulle probeer troos. Foto’s van die slagoffers is op die muur geplak om die proses te vergemaklik.

Die provinsiale adjunkhoof van die brandweer, Hsu Wen-koeang het gesê brandweermanne het byna ’n uur gesukkel om die vlamme te blus nadat die vliegtuig aan die brand geslaan het toe dit die grond tref.

Daar word ondersoek ingestel na die oorsaak van die ongeluk, insluitend hoekom die vliegtuig in swak weer klaring gekry het.

Die lugredery het gesê die vlieënier was die 60-jarige Lee Ji-liang, wat 22 jaar ondervinding en byna 23 000 vlugure het. Die medevlieënier was die 39-jarige Sjiang Koean-hsin, wat twee en ’n half jaar ondervinding gehad het.

Soos party familielede in Penghu aangekom het, het ander by die lughawens in Kaohsiung en Taipei vir vlugte gewag.

Een oorlewende se ma het gesê: “My dogter het my gebel en gesê haar vliegtuig het neergestort. Sy het gesê sy het uitgeklim en ’n selfoon by iemand geleen.”

TransAsia, Taiwan se eerste privaat lugredery, bedryf ook internasionale vlugte van China, Japan, Singapoer, Suid-Korea en Vietnam. Dit gaan later vanjaar die eiland se eerste lae-koste-lugredery bekendstel.

Hulle beplan om elke oorledene se gesin met sowat R363 000 te vergoed, terwyl elke oorlewende sowat R73 000 gaan kry.

’n Vliegtuig van China Airlines het in 2002 in Taiwan naby die Penghu-eilande neergestort. Dit was onderweg na Hongkong en al 225 mense aan boord is dood. Dit was die laaste burgerlike vliegongeluk in Taiwan.

’n ATR-72 van Lao Airlines het in Oktober verlede jaar tydens ’n swaar storm in suidelike Laos  neergestort. Al 49 mense aan boord is dood.

- Sam Yeh