Provinsiale verkeersbeamptes het ook 23 motoriste in hegtenis geneem omdat hulle onder die invloed van drank bestuur het. Agt motoriste is op Mosselbaai, sewe in George, vyf op Swellendam en een onderskeidelik in Brackenfell, Caledon en Oudtshoorn vasgetrek.

Luidens die verslag is 1 233 bestuurders by 23 alkohol-blitspadblokkades regoor die provinsie getoets. Die hoogste lesing was op Caledon in die Overberg waar een bestuurder ses keer oor die voorgeskrewe beperking was. Daarby is 250 boetes van R301 500 uitgereik om verskeie redes, van bestuurder- tot voertuigoortredings.

Die hoogste spoed wat opgeneem is, was 151 km/h in ’n 120 km/h-sone op Beaufort-Wes en 133 km/h in ’n 100 km/h-sone op Swellendam.

Mense moet stadiger ry wanneer hul sig op die pad swak en paaie nat is, waarsku Byron la Hoe, woordvoerder van die Wes-Kaapse provinsiale verkeersdienste.

“Moenie ’n kans op jou toekoms verspeel omdat ’n ander padverbruiker jou nie gesien het nie. Dra sigbare klere wanneer jy langs ’n pad stap.”

In afsonderlike voorvalle het minstens vyf mense in die sentrale deel van Suid-Afrika gesterf.

’n Fietsryer het omgekom toe hy in ’n tref-en-trap-ongeluk buite Potchefstroom in Noordwes betrokke was.

In nog ’n voorval het ’n man en vrou aan hul beserings beswyk toe hulle uit hul motor geslinger is nadat hulle in ’n botsing reg van voor was en hul voertuig omgeslaan het. Die voorval het op die N10 by Groblershoop in Noord-Kaap plaasgevind.

Nog twee mans is Vrydagnag in Welkom in die Vrystaat oorlede toe hulle in ’n botsing van voor met ’n bus betrokke was.