Volgens ’n verklaring deur die nooddiensgroep Netcare 911 is hulle omstreeks 07:15 na die ongelukstoneel op Nettletonweg in Elandsfontein ontbied.

Na wat verneem word het ’n taxi en ’n motor van voor gebots voor die voertuie aan die brand geslaan het.

Die presiese oorsaak en gebeure tydens die ongeluk sal deel vorm van die polisieondersoek.

Teen die tyd wat paramedici en die brandweer op die toneel verskyn het, was die insittendes vasgekeer in die motorwrakke wat deur vlamme omhul is.

Brandbestryders het die vlamme geblus, maar teen daardie tyd het sewe mense gesterf en vyf mense kon daarin slaag om vry te kom. Die vyf oorlewendes het geringe tot ernstige beserings opgedoen.

Mediese personeel het die beseerdes op die toneel behandel voor hulle na onderskeie hospitale vervoer is vir verdere behandeling.