Die vyfjarige Eileidh Paterson van Forres in die Verenigde Koninkryk het geweet neuroblastoom gaan haar lewe eis; toe maak sy ’n lys van alles wat sy nog graag wil doen.

Haar grootste wens was om te trou met die sesjarige Harrison Grier, haar beste maatjie. 

Die twee se onderskeie gesinne het ’n klein “huwelikseremonie” gereël. 

Billy Grier, Harrison se pa, het aan Metro gesê sy seun was nog nooit by ’n troue nie, so alles was vir hom nuut. Hy was wel verskriklik opgewonde daaroor, want Eileidh is sy beste vriendin. 

“Dit was ’n pragtige seremonie en hy het elke oomblik geniet. Hy was nogal taamlik opgewonde oor die hele affêre,” vertel Billy. 

“Hy en Eiledh was van die dag dat hulle mekaar ontmoet het onafskeidbaar. Ek dink hy het geweet wat aan die gang is. Hy het beslis geweet hoe belangrik dit vir haar is, en hy wou enigiets in sy vermoë vir haar doen.” 

Eileidh het ’n wit-en-pienk rok aangehad. Haar ouer broer, Callum, het saam met haar na die kansel gestap terwyl When You Wish Upon a Star uit die Disney-rolprent Pinocchio op die agtergrond gespeel het. Harrison, haar “prins”, het swierig gelyk in sy tradisionele Skotse uitrusting.

Die oulike paartjie het mekaar by die kansel ontmoet, hande vasgehou en Sint Christopher-halssnoere geruil as ’n simbool van die reis wat hulle saam afgelê het.

Eileidh se lewensverhaal is deur Zara Grant van die kindervermaakfirma Love Rara voorgelees, en Eileidh se suster, Cerys, het ’n gedig voorgelees. Dit eindig met die woorde "even if we are apart, I will always be with you. "

Harrison en Eileidh is tot “beste vriende vir altyd” verklaar en het daarna hand-aan-hand uitgestap. Tydens die onthaal is onder meer aan spookasem weggelê, en die besties het die dansbaan op Psy se liedjie Gangnam Style geopen. Die gaste het heildronke op die paartjie gedrink terwyl hulle die dag op pop- en Disney-liedjies om gedans het.
 
Eileidh se ma, Gail, vertel die kleinding het juis op daardie dag bloedoortappings gekry. Sy was bang dit sou ’n uitwerking hê op haar groot dag.

“Sy was regtig baie moeg, maar was tydens die seremonie ’n nuwe mens. Die skouspelagtigheid het haar opgebeur; sy was in haar element omdat sy saam met ander kinders kon speel.

Dit het blywende herinnerings geskep.”

Gail, wat in 2015 meer as R2 miljoen ingesamel het vir Eileidh se behandeling, hou mense op die Facebook-blad Eileidh’s Journey op die hoogte van haar vordering. Sy was ook baie trots op hoe die familie alles hanteer het. 

Harrison se ma, Stefanie Grier, het gesê: “Die kinders het hierdie magiese band. Harrison het altyd gesê hy is lief vir haar en wil met haar trou. 

“Hy hou nie eintlik van speletjies waar jy deftig moet aantrek nie, maar Eileidh weet net hoe om hom te oorreed: Sy het aan al die verpleegsters vertel sy het ’n kêrel en hulle gaan trou.” 

Bronne:  Metro UK, The Sun, NY Post