Só het hy Dinsdag deur sy prokureur in die landdroshof in Wynberg aangedui.

Volgens die verdediging is 44 DNS-verslae nog uitstaande en is dit noodsaaklik om te bewys die pa van twee het nie die 16-jarige vroeër vanjaar in die Tokai-bos vermoor nie.

“As daardie verslae uitgereik kan word, bestaan daar by my geen twyfel nie dat die uitslae my onskuld sal bewys wat die verkragting van en moord op die oorledene betref,” het Oliver in ’n verklaring gesê wat sy prokureur, Monique Carstens, Dinsdag tydens sy borgtogverrigtinge in die hof voorgelees het.

Oliver wou skuldig pleit op ’n klag van roof, maar het die verkragting van en moord op Franziska ontken.

Hy het beweer hy het die meisie beroof terwyl sy deur die Tokai-bos gedraf het om sy kind se kleuterskoolgeld te betaal. Dít nadat hy nie by die werk ’n lening kon kry nie.

Oliver het na bewering voor die roofaanval sy medebeskuldigde Jonathan Jonas raakgeloop.

Vuurwapen sou “alles erger maak”

Hy het aan die hof gesê hy het Franziska van agter in ’n wurggreep beetgekry tot sy haar bewussyn verloor het.

Toe die tiener haar bewussyn herwin, het Jonas na bewering vir haar gesê sy moet haar persoonlike besittings oorhandig. Sy het vir hom haar ring en horlosie gegee.

Oliver sê hy het Jonas, wat blykbaar met ’n vuurwapen gewapen was, nooit gevra om hom te vergesel of te help nie.

Lees ook: Grusame besonderhede oor Tokai-moord kom aan die lig

In sy verklaring het hy gesê hy het Jonas probeer oortuig om die vuurwapen weg te sit, want dit sou “alles erger maak”.

Jonas het na bewering die vuurwapen op hom en Franziska gerig. En Franziska is by die fynbos ingesleep waar die gewapende man na bewering haar gesig in die grond gedruk en haar verkrag het.

Jonas het gelag en sy kop geskud terwyl hy na die getuienis teen hom geluister het.

Ondersoekbeampte gaan getuig

Ná ’n middagete-pouse het Monique gesê haar kliënt is gedreig terwyl hy in die aanhoudingselle was en het daarteen besluit om ’n getuie vir die aansoek te roep uit vrees vir die mens se veiligheid.

Aanklaer Renee Uys het gesê die staat staan borgtog teen weens die erns van die voorval en die sterkte van die saak teen hom.

Sy medebeskuldigde Jerome Moses, wat ook deur Monique verteenwoordig word, finaliseer ’n pleit en vonnisooreenkoms vir die besit van gesteelde eiendom. Hy het Oliver glo gehelp om die gesteelde selfoon te verkoop.

Lees ook: DNS-getuienis verbind verdagte met die moord op Franziska Blöchliger in Tokai-bos

Verlede maand is verslapte borgtogvoorwaardes aan hom toegestaan sodat hy tot 20 Januarie in ’n dwelmrehabilitasiesentrum in Elsiesrivier behandel kan word.

Die vierde beskuldigde, Daniel Easter, sal skuldig pleit vir die besit van gesteelde eiendom. Hy het Franziska se selfoon gehad wat hy na bewering by Oliver en Moses gekoop het.

Die saak is tot Vrydag uitgestel vir die getuienis van die ondersoekbeampte.

Bron: news24.com