“DNS-UITSLAG – Dit is ’n positiewe uitslag tussen die sibbe Desiree Haynes en Francois Venter of te wel Dennis.”

Só het die inskrywing Dinsdagoggend op die Bring Dennis Home-Facebook-blad gelui.

Die vreugde was groot, maar die vermiste Dennis se ma, Rina Smit (77), wou weet waaroor die bohaai gaan.

“Dit was nog altyd my seun, het nog nooit getwyfel nie, my hart is net seer oor hy seer het en ek kan hom nie help om pyn weg te vat nie,” was haar reaksie, lui Desiree Haynes se Facebook-inskrywing oor haar ma se reaksie toe sy die blye nuus kry.

Dennis Haynes (toe 22) is ongeveer 31 jaar gelede laas gesien nadat hy glo op pad na ’n werkonderhoud spoorloos verdwyn het. 

Huisgenoot.com het in Junie vanjaar berig Dennis is een oggend in Februarie 1986 op die N1 buite Bloemfontein afgelaai vir ’n saamrygeleentheid na ’n werkonderhoud in Roodepoort.

“Julle sal nie glo hoe verlig ons is nie,” het Nadine Smal, ’n familievriendin, Dinsdag telefonies aan Huisgenoot.com gesê nadat die DNS-uitslag ontvang is.

Dennis se suster, Desiree Haynes (43) van Bloemfontein, het na al die jare weer opnuut na haar langverlore broer begin soek en ’n foto van hom op Facebook geplaas.

’n Skerp waarnemer het die foto van die vermiste Dennis van Bloemfontein vroeër vanjaar op Facebook gesien en dit vergelyk met ’n foto van die organisasie Mense Gee Om, wat haweloses in Pretoria-Noord van etes voorsien. 

Dit was die deurbraak, want die jong Dennis en ’n foto van een van die hawelose mans het op ’n druppel na mekaar gelyk. Dit het die hoop laat opvlam dat Dennis opgespoor is.

Die man wat toe moontlik Dennis kon wees en Rina, die bejaarde ma van Dennis, is daarna bymekaargebring en hulle het moes 22 dae wag vir die uitslag van DNS-toetse om te bevestig dat dit inderdaad Dennis is. 

Nadine vertel hulle is veral verlig omdat die Facebook-groep Bring Dennis Home die afgelope paar dae soveel kritiek gekry het. 

“Elke dag is daar goed wat my meer laat besef dis my kind. Ek worry nie eers oor die DNS nie,” het Rina onlangs aan Nadine gesê.