Daar word beweer die Beat It-sanger is Brandon Howard, ’n 31-jarige aspirant-sanger, se biologiese pa. En nou gons dit dat hy die seun is waaroor Michael in sy 1982-treffer Billie Jean gesing het.

Brandon is die seun van Miki Howard, ’n gospelsangeres wat saam met Michael getoer het en in die 80’s onder bestuur was Michael se pa, Joe Jackson.

Dr. Joseph Goodman, ’n mondchirurg van Beverly Hills, sê hy het ’n monster van die ster se DNS uit ’n tandheelkundige apparaat gekry wat hy op ’n veiling gekoop het.

Joseph het Donderdag by ’n perskonferensie die resultate aangekondig en ’n koevert met die resultate uitgehaal en gesê daar is ’n “99,9-persent-moontlikheid” dat Michael die pa is.

Die dokter het gesê: “Ek dink ons het die bewyse.”

Brandon – wat as B. Howard bekend staan – het die uitslae en die gerugte dat hy Michael se boedel vir geld sou nader, in ’n video op sy Facebook-blad die nek ingeslaan.

“Nommer een, ek het glad nie (die webtuiste) TMZ gebel nie. Ek het nie ’n storie bekend gemaak nie. Nommer twee, ek het nooit aankondig ek is Michael Jackson se seun nie,” het hy geskryf.

“Nommer drie, ek gaan beslis nie die boedel dagvaar nie. Daar is baie goed na my omgesien. Nommer vier, dit is waar dat ek ’n DNS-toets laat doen het, maar dit het niks hiermee te doen nie.”

Michael was met sy ontydige dood in 2009 die pa van drie kinders, Prince Michael (16), Paris (15) en Blanket (11).

’n Prokureur vir Michael se boedel, Howard Weitzman, het aan TMZ.com gesê: “Ons het nog nooit van hom gehoor nie. Enige spertyd om te beweer dat hy Michael se kind is, is lankal verby.”

Nog ’n man, Augie Johnson, het ook beweer hy is Brandon se biologiese pa en het ingestem om ’n DNS-toets te laat doen.