En die geluide wat hy gehoor het en gedink het was skote, was Oscar wat die badkamerdeur stukkend gekap het om by Reeva uit te kom.

So het adv. Barry Roux vanoggend tydens Oscar se moordverhoor in die hooggeregshof in Pretoria aan Charl, die derde staatsgetuie, gesê.

Dit was maar net deel van die tweegeveg wat vanoggend tussen Barry en Charl plaasgevind het.

Charl se antwoord op Barry se stelling was: “Ek is seker ek het ’n vrou gehoor skree.”

Barry het toe geantwoord daar is nie ’n manier dat Charl, wie se huis 177 m van Oscar s’n is, Reeva kon hoor skree nie; sy was agter ’n toegesluite badkamerdeur en die venster was ook toe. Charl het gesê hulle woon op die grens tussen die twee landgoedere; daar is oop spasies tussen hul huise en klank trek ver.

Charl sê hy was wakker en dat sy sintuie skerp was, waarop Barry toe gevra het hoekom hy dan nie die skote getel het as hy so skerp was nie.

“Sintuie is ruik, sien, proe, voel en hoor. Laaste wat ek gehoor het, was tel nie ’n sintuig nie,” het Charl gesê.

- Hilda Fourie