Toe die seldeur vanoggend agter Bob Hewitt toeklap, het 'n deel van haar doodgegaan. Want 35 jaar lank was Suellen Sheehan (sy het haar naam onlangs verander na Olivia Jasriel) se stryd teen Hewitt haar lewe.

[caption id="attachment_137761" align="alignnone" width="600"]Suellen Sheehan Suellen Sheehan vertel 'n deel van haar het doodgegaan toe die seldeur agter Bob Hewitt toeklap. Foto: Mduduzi Ndzingi [/caption]

Sy was maar net 12 jaar oud toe sy verkrag is deur Hewitt, wat haar tennisafrigter was. Daardie dag het haar stryd begin. Eers was dit om haar ouers te oortuig dié voormalige tennisster het haar verkrag. Tot vandag toe glo haar ouers haar nie.

Toe was dit om saam te leef met die wete dat sy verkrag is en daar is geen geregtigheid vir die man wat haar van haar onskuld beroof het nie. En toe kom die hofsaak nadat sy en nog twee vroue in Desember 2011 klagte teen Hewitt aanhangig gemaak het.

Nadat Hewitt verlede jaar in die hooggeregshof in Johannesburg skuldig bevind is aan die verkragting van twee meisies en onsedelike aanranding van nog een en vroeër vanjaar daarvoor gevonnis is, het hy eers tot in die hoogste hof in die land gepoog om nie tronk toe te gaan nie.

Maar vergeefs. Vanoggend het hy by die St. Albans-tronk in Port Elizabeth aangemeld om met sy vonnis van ses jaar te begin.

Praat 'n mens met Suellen, kan jy in haar stem hoor hoe verheug sy is dat Hewitt eindelik agter tralies is. Sy kon die vorige aand nie 'n oog toemaak nie.

“Kan jy dit glo? Kan jy glo dit is regtig verby?” vra sy asof sy net wag dat iemand haar gaan wakker skud en vertel dit was net 'n droom.

“Dit wat met my gebeur het, het my definieer. Dit was my lewe.

“Ek het heeltyd gedink Hewitt gaan iets doen om nie tronk toe te gaan nie. Toe ek vanoggend hoor hy is in die tronk, was dit asof iets in my doodgegaan het. 'n Deel van my is weg.

“Dit is asof ek daaroor moet rou, want dit is nie net iets wat nou gaan weggaan nie. Dit was my lewe.

“Dis nie dat ek nie heel is nie, maar daardie gedeelte van my wat weg is, gaan nou met iets anders vervang moet word. En dit is nie 'n slegte ding nie.”

Heel ironies gaan Suellen volgende week Port Elizabeth toe waar sy aan 'n tennistoernooi gaan deelneem. Oor dié toeval giggel sy net.

Deur al die jare het Suellen soveel verloor. Sy het jare laas enige kontak met haar ouers of broer gehad. Sy is in die proses om 'n siviele saak teen hulle aanhangig te maak weens laster. Dié proses is nog in die vroeë stadiums.

“As jy my vra of ek dit weer sal doen ondanks alles wat ek verloor het, sê ek ja.

“Ek dink nie jy kan erger kry as waardeur ek is nie. Maar ek sal dit alles weer doen. Hom agter tralies, maak alles die moeite werd,” sê Suellen.