Met Huisgenoot se besoek Maandag aan sy weduwee, Elize, het sy vertel sy gaan haar man op sy verjaardag veras.

“Hy wou dit so gehad het. Ek gaan sy as na sy ouers se grafte op Nylstroom neem.

“Dit sal die laaste keer wees dat ek hom groet.”

Die glimlaggende foto van Piet wat by sy begrafnis gestaan het, is ook nou in Elize se huis.

’n Foto van Piet Byleveld staan op die trap in hul huis. Foto: Jacques Myburgh

Die foto staan by die trap.

“Ek kon nog nie ’n plekkie tussen al die foto’s kry daarvoor nie. Ek wil dit graag opsit waar ek elke oggend daarna kan kyk.”

Verlede week Donderdag het Piet se geliefdes en kollegas by ’n roudiens in Johannesburg afskeid geneem van hom nadat hy sy stryd teen longkanker verloor het.

“Dit is vir my nog baie vreemd om huis toe te kom en nie heeltyd besig te wees nie.

“Toe Piet siek raak, was ek heeltyd besig om hom te versorg of onkoloog toe te neem. Nou weet ek nie wat om met my tyd te maak nie,” sê sy.

By die baasspeurder se huis is dit pynlik netjies, soos altyd. Al wat anders is, is die oorheersende stilte en leemte wat Piet nou laat.

“Dit gaan vir my baie erg wees om op sy verjaardag sonder hom te wees,” sê Elize.