Daar was lanklaas iets waaroor soveel Suid-Afrikaners gegons het soos die omstrede gay-soen tydens verlede Donderdagaand se episode van 7de Laan.

simonweb

Eers het Huisgenoot met die aantreklike model en akteur Arnu de Villiers gesels oor hoe hy voel oor die toneel waarin sy karakter, Divan, sy vervreemde sepieman, Logan (Simon Tuit), soen.

Arnu het vertel hy verstaan nie waaroor al die bohaai gaan nie. "Aan die einde van die dag gaan dit oor liefde. En dit is fine," het dié Johannesburger gesê.

Nou het die ander helfte van dié sepieromanse ook sy stem laat hoor en ’n roerende ope brief op sy Facebook-blad gedeel.

"Noudat die stof om die storm rondom die soen tussen Logan en Divan gaan lê het, het ek gedink om my dankbaarheid vir die oorweldigende openbare reaksie daarop met julle te deel," skryf die 31-jarige akteur Simon Tuit.

“Ek hoop dié boodskap raak die harte van almal wat dit dalk mag nodig hê."

Volgens Simon is dit vir hom verblydend om soveel mense te sien wat saamstaan teen wat hulle as homofobiese gedrag en die "blatante wreedheid en haat" teenoor ander mense beskou.

Hy meen die kameraadskap tussen Suid-Afrikaners oor dié opspraakwekkende “klein toneeltjie” bewys dat selfs in “konserwatiewe” kringe liefde en aanvaarding aan die einde van die dag geseëvier het. Simon sê wel dat baie mense voel 7de Laan is nes baie soortgelyke TV-programme bietjie laat om verhoudings tussen mense van dieselfde geslag uit te beeld.

"Ons moet aanhou om daaroor te praat en dit te wys aangesien daar so baie onkunde rakende die kwessie is."

Simon het wel benadruk sy brief is nie op enige spesifieke mense of geloofsgroep gemik nie. "Ek besef dis onwaarskynlik dat ek enigiemand se uitkyk sal verander," erken hy.

In sy brief wil hy egter opstaan vir gay mense wat in hul onmiddellike omgewing wysgemaak word daar is iets “fout” met hulle. Hy hoop dat dié mense die bemoedigende kommentaar sal raaksien en besef hulle is nie alleen nie.

“Vir daai persone wat daardie toneel moes kyk met ’n knop in die keel omdat jou pa of ma of ’n familielid dalk begin te kere gegaan het oor al ‘daardie moffie k*k’, iemand wat moes hoor hoe ‘walglik gays is’ en hoe ‘geen seun of dogter van my ooit say gay wees nie...' Ek hoop dat jy uit hierdie hele bohaal sal besef die groter samelewing aanvaar jou.

"Daar is ’n plek daarin vir jou, sonder dat jy hoef te verander. Ek wil jou verseker dat dinge sal beter raak. As jy nog nie gemaklik is daarmee om uit te kom nie, probeer jou bes om mense te ignoreer wat jou menswaardigheid wil wegneem...”

Lees Simon se volledige brief hier.