Volgens die Koninklike Dierebeskermingsvereniging (RSPCA) het 100 000 vlermuise in die suide van die staat Queensland reeds gevrek weens hitte-uitputting.

’n Woordvoerder van die RSPCA, Michael Beatty, sê die hittegolf was ’n groot terugslag vir die vlermuise in die staat.

“Die ramp gaan ’n groot uitwerking hê op die vlermuisbevolking, ’n noodsaaklike spesie vir ons ekostelsel.”

Omdat dit so warm is, hang die vlermuise onderstebo in die bome en urineer op hulleself om hul liggaamstemperatuur af te koel.

“Dié wanhopige pogings help ongelukkig nie juis nie; hope vlermuise val uit die bome en vrot vinnig in die hitte,” vertel Beatty.

Daar val soms meer as 250 vlermuise op ’n slag uit die bome.

“Dis ’n aaklige manier om dood te gaan. Dis ’n enorme kommernis vir ons dierewelsyn.”

Maar dis nie al nie; die versengende hitte eis glo ook voëls en diere se lewe. ’n Groot aantal papegaaie, kangaroos en emoes is ook dood aangetref.