“Dit moes ’n tyd geneem het om haar te verwurg.” Die staatsaanklaer, Erik van der Merwe, het die omstandighede rondom die dood van Soniya Koekemoer se dogter tydens haar hofverskyning Maandag in die Vanderbijlpark-streekhof beskryf. Soniya het Donderdag 11 Augustus 2016 skuldig gepleit op die aanklagte teen haar en erken dit was sy wat haar negejarige kind, Michelle, met ’n tou in hul woonstel verwurg het.

Daar is besluit om met die saak in die Vanderbijlparkse hof voort te gaan hoewel die sielkundige verslae oor Soniya nog nie Maandag beskibaar was nie.
Haar regsverteenwoordiger, Francois de Kock, het vandag aangedui dat Soniya enkele minute voor Michelle gesterf het, besluit het om die moord te pleeg. Dit was volgens hom dus nie ’n beplande moord nie.
Hy voer ook ter versagting aan dat Soniya skuldig gepleit en berou getoon het. Hy het ook aangevoer dat Soniya nie ’n gevaar vir ander inhou nie. Lees ook: ‘Wurgma’-saak uitgestel omdat beskuldigde ‘nie emosioneel stabiel genoeg’ is nie ’n Emosionele Soniya het beheer oor haar emosies verloor en gereeld gehuil tydens Francois se vertoë en haar trane met haar mou afgevee.
Die staatsaanklaer het op sy beurt aangevoer dat die moord op Michelle beplan of voorafbedag was. Hy het aangevoer dat Soniya veronderstel was om na Michelle te kyk. En dat dit ’n lang tyd sou neem om haar te verwurg. Soniya het destyds in ’n verklaring gesê sy het Michelle op 9 Junie dood in haar bed aangetref. Sy het beweer inbrekers het haar met ’n tou verwurg. Sonyia het ook beweer sy self het wakker geword met ’n tou om haar nek. Hy bestempel Soniya ook as die "meester van haar eie ondergang".

Erik vra vir lewenslange tronkstraf vir Soniya, alternatiewelik 20 tot 23 jaar.

Die saak sal Dinsdag voortgaan.