Elke ma en seun met ’n hegte band sal na hul hart gryp wanneer hulle die roerende produksie Voorskoot en Lipstiek gaan kyk.

Dit is eers later in die vertoning dat Elza (Marinda) iets aan haar seun, Arnold (Herman), erken.

Die twee het duidelik op die verhoog en agter die skerms ’n hegte band en Herman beskryf Marinda as sy “ander ma”. Marinda kan nie help om spontaan te vertel hoe lief sy vir Herman is nie.

Hulle deel albei ’n passie vir kos en met die vertoning wys hulle jou op ’n baie sensitiewe manier dat alle struwelinge en uitdagings tussen mense te bowe gekom kan word as jy hulle so ver kry om saam om ’n tafel te sit en eet.

“Ek sê kos is soos ’n kombersie vir die seer,” se Marinda. “Kos het ook nie ’n taal nie en almal verstaan dit.”

Herman het Marinda die eerste keer op die monitor van die Kokkedoor-stel gesien en geweet daar is iets in haar waarmee hy aanklank vind. “Ek dink sy het my regtig aan my ma herinner.”

Aan die einde van die vertoning kan jy sien Elza en Arnold is nader aan mekaar as ooit en boonop spog hulle met ’n appel-en-garnaalslaai vir voorgereg, beesstertpilaf vir hoofgereg en ’n goue sjokoladekoek vir nagereg. Voorskoot & Lipstiek maak beslis die hart en smaakkliere week.

Die vertoning is elke oggend om negeuur vir die hele duur van die KKNK te sien.

- Marelize Potgieter

[post-slider]