Die kans is ook goed dat selfs dié wat voorgee hulle weet, ook nie weet nie . . .

Pokémon GO is ’n slimfoon-app wat óf al jou aandag gaan opeis óf die duiwel uit jou gaan frustreer.

A photo posted by ??? (@kyounga824) on

Die idee van die speletjie is glo om mense van die rusbank te laat opstaan en aan die oefen te kry.

Kortom kom dit daarop neer dat die app deur middel van GPS ’n karikatuuragtige kaart van jou buurt skep en waar jy jou ook al bevind. Dit span terselfdertyd jou slimfoon se kamera in, wat beteken die Pokémon kan enige tyd, enige plek op jou selfoonskerm opduik.

O ja, en net jy kan dit sien.

Maar wat moet jy doen wanneer dit gebeur?

’n Mens kry ’n beperkte getal visuele Pokéballs wat jy met jou vinger op die skerm moet “skiet” om die Pokémon vas te keer. Soms is jy suksesvol en soms weier die rakkers om bes te gee.

Dis baie soos die 20 jaar oue Pokémonspeletjie, waar jy goeters soek, vang, oplei en dan gevegte met hulle aanknoop.

Hoe gemaak wanneer jou Pokéballs-ammunisie opraak?

Dan moet jy ’n Pokéstop opspoor. Dié duik gewoonlik op op interessante of belangrike plekke in jou stad of in jou gemeenskap.

Dis hier waar die oefening-gedeelte van die speletjie ter sprake kom. Jy moet loop om tot by daardie belangrike stilhouplekke te gaan herlaai. Om jou nog meer aan te spoor om tot aksie oor te gaan, is daar versteekte items wat jou aanmoedig om deur te druk.

Pokémon-eiers wat nog nie uitgebroei het nie, is deel daarvan. Vir elke 5 km wat jy loop, broei een van die eiers uit.

Nee, jy kan nie kul nie. Jy moet werklik loop om by die verskillende bakens te kom.

Die gim-gevegte is ook nie net 1-2-3 en jy is die kampioen nie. Soms is ’n hersteltyd tussen gevegte goeie strategie.

Pokémon-terme – en ons hou dit maar by die Engelse terme omdat dit deel van die speletjie se opsies is:

  • Pokémon: Die karaktertjies wat jy kan vang.
  • Pokémon trainer: dis jy.
  • Pokéball: Dis rooi en wit sirkels waarmee jy die karaktertjies kan gooi. Hoe sterker jy as Pokémon-afrigter ontwikkel, hoe meer van dié “balle” sal jy by Pokéstops ontvang.
  • Pokéstop: Dis ’n baken of plek wat geologies gemerk word (“geotag”) waar jy Pokéstops en ander belonings kan kry.
  • Evolve: Hoe harder jy werk, hoe magtiger kan jou Pokémon word.
  • Candies, stardust, potions: Dis alles ekstra hulpmiddels wat jy kan kry tydens gevegte of om jou Pokémon sterker te maak.
  • Pokémon gyms: Die gim is die plek waar jou Pokémon ander die stryd aansê sodra jy die vyfde vlak van die speletjie bereik het. Beheer oor verskillende gims en ander pryse is hier op die spel. Net soos met die Pokéstops, is die gims ook geologies gemerk.

Dié video verduidelik ook hoe jy die speletjie begin en wys jou van die aksie – al sien net jy dit op jou foon.

Maar wees gewaarsku! Evan Schribner van New York het ’n waardevolle les geleer: Moenie Pokémon speel en jou meisie verkul nie.

Met dié app kan jy in die regte lewe op die hoogte bly van waar die slimfoongebruiker is. Evan se meisie het besef haar geliefde bring hopeloos te veel tyd deur in die omgewing waar sy eksmeisie woon. Dit is onseker of sy hom met Pokémonballs bestook het, maar Evan se status het blitsvinnig van “in ’n verhouding” tot “enkellopend” verander.

Ses kitsfeite oor Pokémon:

1. Die woord is die verkorte weergawe van sakmonster (pocket monster)

2. Pikachu is die bekendste karakter.

3. Die meervoud van Pokémon? Dit bly Pokémon.

4. Dié video van 2014 het reeds die koms van hierdie opspraakwekkende app aangekondig.

5. Sedert die app op 6 Julie uitgereik is, is dit reeds meer keer as die afspraak-app Tinder afgelaai.

Die app is deur Niantic ontwikkel en is eerste in Australasië, Amerika en dele van Europa bekendgestel. Dit sal weldra wettiglik in Suid-Afrika uitgereik word.

Bronne: edition.cnn.com, rollingstone.com, forbes.com, nypost.com