“Aan die einde van die dag gaan dit oor liefde. En dit is fine,” sê Arnu de Villiers, die sexy akteur wat verlede week opslae veroorsaak het weens dáái soen in die gewilde sepie 7de Laan.

arnuweb

Kykers se monde het omtrent oopgehang toe Logan (Simon Tuit) in Donderdagaand se episode sy man, Divan (gespeel deur Arnu), voor almal in Oppiekoffie soen.

Dié soen tussen Logan en Divan word bestempel as 7de Laan se eerste gay-soen in die sepie se bestaan.

Arnu (27) het Maandagoggend vir die eerste keer gereageer op die ongelooflike reaksie wat die soen ontlok het.

"Laas nag (Sondag) was ek op Facebook en daar het ek weer Die Soen gesien," vertel hy op sy Facebookblad. "Ek het gedink 'hoekom net ek – hoe koel sal dit nie wees as almal kan soen en ’n foto van hul liefde deel nie? Of hulle nou straight of gay, bi(seksueel), veelrassig of wat ook al is.

"Kom ons staan eerder saam en wys die wêreld dat dit nie net in sepies gebeur nie, maar in die regte lewe ook! Dit is net liefde."

Dié model van Johannesburg vertel hy was aanvaklik skepties toe hy hoor sy karakter gaan ’n ander man in die sepie moet soen.

"Ek het geweet dit gaan omstredenheid veroorsaak," vertel hy aan Huisgenoot. "Maar ek het ook geweet dit gaan mense aanraak; dit gaan vir iemand iets beteken. Daarom het ek geweet ek gaan die rol aanvaar."

Om die toneel te repeteer was vir hom ongemaklik, erken Arnu. Aanvanklik was dit ook vir hom moeilik om "in die karakter in te klim". Om dinge te vererger was dit nie net sy eerste dag op stel nie, maar ook die eerste keer dat hy vir Simon ontmoet.

Maar toe dit tyd word om die daad by die woord te voeg en die toneel te skiet, het Arnu presies geweet wat om te doen. "Toe ek dit na die tyd kyk, het ek net gedink: wow! Dis ek daai. Dit was nogals intens, maar ek het geweet ek het my werk gedoen."

Na afloop van die episode het sommige kykers erg gal gebraak en die hele situasie as "walglik" bestempel.

Maar Arnu meen die reaksie was onnodig. "Ons lewe in ’n tyd waar almal iemand ken wat gay is; die verskil met die soen in 7de Laan is bloot dat dit nou in mense se gesigte is."

Hy gaan hom egter nie te veel aan die negatiewe kommentaar steur nie. "Dis ’n kwessie wat wêreldwyd ter sprake is. Mense is mense. Liefde is liefde. En dit is fine.

“Maak jou kinders reg groot dat hulle weet van dié dinge, want eendag is dit dalk jou kind wat gay is en nie weet hoe om dit vir jou te sê nie,” sê hy.

Mense moet dié kopskuif maak, voel Arnu. "Want gay, biseksuele en transseksuele mense is almal mense wat liefhet nes jy liefhet."

Die 4000ste episode van 7de Laan word hierdie komende Donderdag uitgesaai.