Die ouers van die tweejarige seuntjie wat verlede Vrydag deur sy sesjarige boetie uit hul swembad in Centurion van ’n gewisse verdrinking gered is, is verheug -- hul jongste is ná ses dae terug by die huis.

[caption id="attachment_119851" align="alignnone" width="600"]Markus en Stefan was nog altyd onafskeidbaar. Foto: Verskaf Markus en Stephan was nog altyd onafskeidbaar. Foto: Verskaf[/caption]

Dit was ’n fratsongeluk toe klein Markus Vermaas binne ’n oogwink tussen ’n jolige spelery deur met die bure se kinders in die swembad beland. Sy ouer boetie, Stephan (6), het sonder om te huiwer in die swembad gespring om hom uit te haal.

“Dit is net God se genade. Stephan was net Sy instrument,” het Liza (34), ’n heeltydse kunstenaar, Donderdag gesê.

“Ons is almal dankbaar om weer saam onder een dak te wees. Stephan en (sy boetie) is onafskeidbaar. Hy is beslis sy klein boetie se held – hy was nog altyd en nou nog meer, hoewel Markus geen idee het wat gebeur het nie. Markus het nog ’n bietjie slym op die bors vanweë die infeksie in sy longetjies, maar ek hou hom tuis en behandel hom met medisyne.”

Frans (33), die kinders se pa, vertel hy het Stephan ná die voorval vir sy dapperheid geloof.

“Ek het vir hom gesê hy is my en mamma en boetie se hero en dit wat hy gedoen het, was baie dapper.”

Lees ook: Bobby van Jaarsveld wys sy klein prinses, Armani – kyk dié skattige foto!

Frans, ’n bestuurder van ’n tentvervaardigingsmaatskappy, sê Stephan ontvang traumaberading by die skool.

Die pa het hom Woensdagaand tot Facebook gewend om sy hart uit te stort. “Ek post nooit op Facebook nie, maar wil vanaand baie dankie sê vir elkeen se boodskap, oproep, omgee, ondersteuning en veral gebede die laaste paar dae. Met my hart wat oorloop van dankbaarheid. Markus is terug by die huis en amper weer sy ou self. Alles net genade van Bo,” het hy op sy blad geskryf.

[caption id="attachment_119852" align="alignnone" width="600"]"Ek wil net baie dankie sê vir elkeen se boodskap, oproep, omgee, ondersteuning en veral gebede die laaste paar dae," het Markus se pa, Frans, op Facebook geskryf. Foto: Verskaf "Ek wil net baie dankie sê vir elkeen se boodskap, oproep, omgee, ondersteuning en veral gebede die laaste paar dae," het Markus se pa, Frans, op Facebook geskryf. Foto: Verskaf[/caption]

Die ouers het sedert die voorval op 4 Maart dag en nag langs hul kind se bed in die waakeenheid van die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg gewaak.

Markus het die middag saam met sy boetie met die bure se kinders buite voor die huis gespeel. Frans en Liza was in die proses om ’n dek rondom die swembad, agter die huis, te installeer. Die seil was dus nie oor die swembad nie.

Liza het deurentyd na die kinders gekyk en hulle deur ’n oop venster dopgehou terwyl sy in die huis was. Sy vertel hulle bly in ’n veiligheidskompleks in ’n doodloopstraat en die kinders speel daagliks oor en weer op hul fietse. Toe gebeur dit.

Liza het kort voor die voorval gesien hoe Stephan na die swembad gaan om sy opblaashaai te gaan uithaal.

“Hy het die opblaashaai gaan haal om die ander seuns mee bang te maak,” vertel sy.

Lees ook: ‘God het geweet waarom ons vir dié dag moes wag,’ sê familielid ná Zephany Nurse-uitspraak

Sy het hom gemaan om dit terug te sit aangesien dit buite die swembad gaan skeur. Markus was besig om die ander kinders met ’n besem te jaag. Sy het hom aangesê om die besem in die oop motorhuis te bêre.

Markus het vermoedelik deur die motorhuis verdwyn om ook sy opblaasspeelding by die swembad te gaan haal om die maats mee te jaag. Oomblikke later, toe Stephan sy haai gaan terugsit, het Liza hom (Stephan) hoor skree.

Hy het in die swembad gespring om sy boetie te red. Hy het met Markus in sy arms gestaan en histeries gehuil. Hy het gedink sy boetie is dood.

Markus se lippe was blou toe Liza begin om noodhulp toe te pas. Hy het bygekom en water opgebring. Sy het met hom na die naaste hospitaal gejaag.

Hy is later die aand per helikopter na Garden City oorgeplaas waar hy tot Woensdag behandel is.

– Jana van der Merwe

Ander stories op Huisgenoot.com

Beïndruk motorgeesdriftiges as jy weet SA se Motor van die Jaar is . . .

Zephany Nurse se grootmaakma skuldig

Tokai-moord: Nóg klagtes kom moontlik teen Franziska-verdagtes

Vrou in Zephany Nurse-saak skuldig

Ma takel stigma: ‘My dogter is meer as net die geboortemerk op haar gesig’

Kyk: 7 koninklike kleingoed sal jou hart vermurwe

‘Liefie’ hier en ‘skattie’ daar: Basta met troetelname op kantoor sê vroue