williamkate En met baba C wat nou enige dag sy of haar opwagting kan maak, het joernaliste reeds begin uitkamp voor die St. Mary-hospitaal in Londen. In die Lido-vleuel sal baba C hier, net soos pa William, sy of haar opwagting maak.

Parkering naby die Lido-vleuel is ook reeds van vandag af vir die volle maand afgesper vir “gebeurtenis S0601866”. Dié kode is vir die geboorte van die derde aanspraakmaker op die Britse kroon.

Of jy nou in die pienk of die blou brigade is, baba C se aankoms word nou al amper op die vingers afgetel onder ons bloubloed-bewonderaars.

Uit oupa Charles se opmerkings wil dit lyk of dit ’n manlike opvolger gaan wees en oom Harry het ook laat glip dat dit ’n seuntjie gaan wees. Maar wie sal weet? Behalwe die ouerpaar natuurlik, wat by monde van ’n verklaring onlangs laat weet het dat ook hulle verkies om nie te weet wat die geslag van baba C is nie.

Catherine self is doodstil; sy het darem al die kuns vervolmaak om perfek onder die radar te vlieg.

Haar verhouding met William was lank ’n geheim en sy het nog nooit ’n woord verkeerd gesê nie. Dit is eerder haar familie wat haar al in die verleentheid gestel het, eers haar oom, toe haar broer, James, se ietwat “'waaghalsige” verpersoonlikte koeke, en dan natuurlik sus Pippa se onskuldige kaskenades, wat voorbladnuus is net omdat sy Kate se kleinsus is.

Die afgelope naweek is ook berig dat William en Catherine Pippa glo gevra het om haar sosiale program so ’n bietjie af te skaal sodat sy nie te gereeld die sosiale blaaie haal nie. Dit is natuurlik ook nie die eerste keer dat Pippa versoek word om ’n bietjie onder die radar te vlieg nie...

Ewenwel, ongeag Pippa se manewales is die opgewondenheid aan’t opbou onder koninklike bewonderaars. En uit Kanada word berig dat die Niagara-waterval selfs blou of pienk gekleur gaan word, afhangend van die baba se geslag.

Ek wonder of Tafelberg dalkies ’n blou of pienk skynsel sal kry, so in die gees van feesviering? As ’n bloubloed-bewonderaar kan ’n mens net hoop!

- Arlene Prinsloo

Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus.