Bloemfontein – Die boer Tolla Faber het al baie gehuil in sy leeftyd. Maar niks kom naby die dag toe hy sy vee – waarvoor hy so lank gespaar het om te koop – in die oë moes kyk en skiet nie.

Tolla huur die plaas Helderfontein naby Hertzogville in die Vrystaat. Hy sê van sy ander vee het net inmekaargesak waar hulle gestaan het en gesterf van wanvoeding.

Hy is een van talle boere wat op hul knieë gedwing is deur die uitgerekte droogte in die gebied.

Vrydagoggend het hy weer gehuil – dié keer van vreugde.

Vrydagoggend het hy weer gehuil – dié keer van vreugde. Hy kon nie glo vreemdelinge stuur vir hom hulp in die vorm van voer vir sy vee nie.

“Die Here stuur sy seëninge,” het hy gesê nadat hy verseker is dat ’n trok met 100 klein hooibale op pad is. Saterdag sal 25 solank afgelewer word.

Hulp op sosiale media

Boere regoor die wêreld sit nou handjie by om mekaar te help. Hulle deel graag hul ervaringe op die Facebook-groep Boere in Nood.

En dié gedeel het vrugte begin afwerp – alles van hooibale wat gratis vervoer word, tot morele ondersteuning, en waar moontlik, finansiële skenkings, is al beloof of reeds afgelewer.

Die hulp aan Tolla getuig van dié vrygewigheid. Tolla (65) en sy vrou, Jannet, het hul aantal vee die afgelope 14 jaar tot 150 opgebou – maar dit staan nou op net 51.

“Dis nie die eerste keer dat ons so hard geslaan word nie,” sê hy. “Maar toe was ek jonger. Hoe begin ’n mens oor op my ouderdom? Ek moet nou my vrou op die plaas los terwyl ek werk as voorman by ’n konstruksiemaatskappy gaan werk. Ek kan nie bekostig om haar saam te bring nie – en dis basies al wat ons oorhet.”

Met niks begin

Hy en sy pa het in 1999 in Douglas geboer en alles verloor. Daar was ’n mielie-skandaal waartydens boere nie vir hul produk betaal is nie.

“Ek het niks gehad nie. Ek en my vrou het ’n oproep van iemand uit Hertzogville gekry wat vir my ’n werk aangebied het om na sy vee om te sien.” Die gesin het met R100 agter hul naam die aanbod aanvaar. Alles wat hulle kon spaar, het hulle gebruik om hul eie vee mee te koop.

Van 150 stuks vee het Tolla nou net 51 oor

“Ons het genoeg gespaar om een koei te koop, toe twee, toe drie. Voor die droogte begin het, het ons 150 vee gehad. Nou sal jy verstaan hoekom ek in trane uitgebars het toe ek my vee moes skiet. Dit het my amper doodgemaak, maar ek moes dit doen.”

Tolla het 31 vee in ses weke verloor; hy moes nege skiet en die res het net inmekaargesak en gesterf. Maar hy’t geweier om tou op te gooi.

“Die Here se manier van dinge doen, is merkwaardig. Jy kan jou sommetjiese maak, maar Hy kan al daai somme anders doen. Wat Hy al vantevore vir my gedoen het, was niks minder as ’n wonderwerk nie. En om nou te hoor daar is hulp oppad . . . ek het nie woorde daarvoor nie.

“Ek was al vantevore plategeslaan. Ek sal weer opstaan.”

Bron: News24