Maar intussen is daar ook bespiegeling rondom die liefdeslewe van die koninklike rooikop en sy ander eksmeisie, Chelsy Davy.

Volgens bronne beplan hy en Cressida (26) om mekaar in die komende weke weer in Norfolk, Engeland, te sien.

“Cressida kan Harry blykbaar nie uit haar gestel kry nie,” het ’n lid van die binnekring teenoor die Britse tydskrif Grazia opgemerk. “Sy het hom gemis en nou is hulle skynbaar weer bymekaar.

“Cressie se pa woon naby William en Kate. Sy het toevallig dieselfde naweek daar gekuier as Harry. Hy het haar gevra of hulle mekaar op die platteland kon ontmoet. Daar is blykbaar nog gevoelens aan weerskante en dit lyk nie asof Cressida oor hom is nie.”

Hierdie nuus het uitgelek nadat daar bewerings was dat Harry (31) en Chelsy (29) weer in ’n verhouding is nadat hulle onlangs saam in Afrika was.

Albei die vroue het lang verhoudings met die prins gehad en albei verhoudings het blykbaar om dieselfde rede skipbreuk gely.

“Die druk wat dit meebring om met die prins uit te gaan, is die rede waarom albei verhoudings tevore beëindig is,” het die bron gesê. “Die verhouding met Chelsy was agt jaar lank aan en af, maar sy het besef sy sou nooit ’n lid van die koningsgesin wou wees nie.

“In die geval van Cressida is dinge effens anders – sy moet haar loopbaan as aktrise in gedagte hou, dus kan die feit dat sy met ’n prins uitgaan, ’n dubbelsnydende swaard word. Sy het aan hom gesê daar kan geen sprake van ’n huwelik wees as hulle weer sou begin uitgaan nie.”

Cressida het sedert haar en Harry se paaie verlede jaar geskei het, in die toneelwêreld opslae gemaak. Sy is volgende jaar weer saam met Christoph Waltz, Judi Dench en Jack O’Connell in Tulip Fever te sien.

© Cover Media