.

Die koninklike egpaar, wie se eersteling na verwagting einde vandeesweek verwag word, het gisteraand Kensingtonpaleis in Londen verlaat om gehaltetyd in die hertogin se ouerhuis deur te bring.

“Hulle geniet hul tyd saam,” het ’n bron aan The Express gesê. “Hulle is baie ontspanne en kalm. Dit gaan goed met albei.”

Die paartjie verdeel hul tyd tussen die twee huise tot Catherine, wat bekend was as Kate Middleton voor sy in 2011 met prins William getrou het, die lewe moet skenk. Sy sal dan na die St. Mary-hospitaal in Paddington, Londen, geneem word.

Die baba sal die eerste ses weke van sy of haar lewe deurbring saam met Catherine in haar ouers, Carole en Michael Middleton, se Georgiaanse huis in Berkshire, in die suidooste van Engeland. Die hertogin het vantevore gesê sy voel in haar ouerhuis op haar “veiligste”.