Die afgetrede bobaasspeurder Piet Byleveld (67) word in die hoësorgeenheid van ’n Roodepoortse hospitaal behandel.

Luidens berigte het ’n familielid, wat nie geïdentifiseer wil word nie, by ’n Roodepoortse hospitaal gesê “dit gaan glad nie goed nie” en hy is baie emosioneel.

In ’n oproep na Piet se selfoon het ’n vrou wat haarself as Vernalize voorgestel het, gesê sy kan geen kommentaar lewer nie.

“Ons gaan nie kommentaar lewer nie,” het sy benadruk.

Piet is blykbaar weens ernstige asma, ’n kwaal waarmee hy reeds jare sukkel, in die hospitaal opgeneem. Toetse sal na bewering Maandag gedoen word om te bepaal wat fout is.

Hy het jare lank as speurder gewerk en is bekend vir sy ondersoeke in hoëprofielsake, soos die ontvoering en moord van Leigh Matthews en die aanklagte teen Cedric Maake, bekend as die Wemmerpan-moordenaar.

Maake is uiteindelik skuldig bevind aan 114 klagte, waaronder 27 moorde, en is tot 1 340 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Piet het in 2010 ná ’n loopbaan wat oor 38 jaar gestrek het, uit die polisie getree en ’n privaat speurmaatskappy begin. Hy en sy vrou, Elize, het afgetree nadat hy verlede jaar die onderneming toegemaak het.