[caption id="attachment_156844" align="alignnone" width="450"]Christopher Carstens. Foto: Verskaf Christopher Carstens. Foto: Verskaf[/caption]

Daar is nie geld vir die huur van R5 000 nie. Hy en sy gesin sit dalk eersdaags op straat. En dit alles nadat hy sy been in ’n fratsongeluk by die werk verloor het. Dit het op 10 September 2014 gebeur en hy sukkel steeds “om bloed uit ’n klip te tap”.

“Dis nie regverdig nie,” sê Christopher Carstens (33), ’n opgeleide ketelmaker van Swellendam in die Overberg. “Ek moet nou ’n nuwe ambag betree; alles van voor af doen. Dit kos geld. Hoe gaan ek dit doen as ek nie eens ’n huis of kos het nie?”

[caption id="attachment_157353" align="alignnone" width="600"]Christopher in die hospitaal. Foto: Verskaf Christopher in die hospitaal. Foto: Verskaf[/caption]

Christopher, wat nou enige tyd die pa van ’n seun, Odin Hawke Carstens, gaan word, wil graag op ’n skoon lei met ’n nuwe lewe begin. Maar hy kan nie kop bo water hou met die paar duisend rand wat hy deur sy “vergunningsooreenkoms” gekry het nie.

Op die oomblik is ’n dak oor hul kop die belangrikste, meen Christopher. “Ten minste ’n Wendy-huisie met ’n sonkragstelsel op die dak . . . As 2 500 mense elk net R100 kan gee.”

Ná die vorige artikel (5 Februarie) was daar baie beloftes; soos dat al die dokumente by die regsdepartement van die werkersversekeringsvereniging in Pretoria is.

“Weens die ernstige aard van die ongeluk is ’n eksterne party aangestel om ’n volledige ondersoek te doen,” het Kellie Becker, besturende direkteur van Soill, vervaardiger van kanola-olie op Swellendam, in ’n geskrewe antwoord op Huisgenoot se vrae, vroeër gereageer.

Christopher het as ketelmaker vir die onderneming op Swellendam gewerk toe die ongeluk aan diens gebeur.

[caption id="attachment_157352" align="alignnone" width="600"]Christopher Carstens, voor die ongeluk. Foto: Verskaf Christopher Carstens, voor die ongeluk. Foto: Verskaf[/caption]

Hy en ’n kollega het daardie dag meer as twee jaar gelede opdrag gekry om sweiswerk bokant ’n meul in ’n silo van Soill te doen. Die motor en masjien was ontkoppel toe hulle begin werk, onthou Christopher. Hy moes bo-op die meul staan om die sweiswerk te doen.

Skaars 15 minute later het die elektrisiën glo weer die masjien aangeskakel. Die meul het Christopher se bene gegryp en begin maal; dit vergruis. Die masjien is gou weer afgeskakel, maar dit was nie betyds nie.

Dis steeds ’n traumatiese ervaring vir sy vrou, Natalie Rupping (29), om te sien dat haar eens sportiewe, aktiewe man nou “nooit weer saam met haar sal kan dans nie”.

Sy linkerbeen is bo die knie geamputeer. Hy het ook net gedeeltelike gebruik van die ander been. Hy was goed gebou en sportief voor die “onnodige ongeluk”.

“Ek het moeite met alles wat ’n normale mens as normaal beskou: bad, toilet toe gaan, slaap weens die daaglikse pyn, swelling, depressie en angs,” vertel hy.

[caption id="attachment_157355" align="alignnone" width="600"]Christopher se linkerbeen is bo die knie geamputeer. Foto: Verskaf Christopher se linkerbeen is bo die knie geamputeer. Foto: Verskaf[/caption]

Hy het ook sy vertroue in mense verloor omdat die maatskappy hom na bewering beloof het hulle sal “seker maak ek is gemaklik in my lewe vorentoe, maar ek het daagliks stres en wonder wat gaan van my en my gesin word,” sê Christopher.

Hy en Natalie het ook ’n tweejarige dogtertjie, Aurora Lilly-Rose Carstens, wat nou met ’n depressiewe en “liggaamlik stukkende” pa moet grootword.

“Ons het regtig hulp nodig: geldelik en geestelik,” sê Christopher.

“Vergoeding van beserings aan diens word gereguleer deur die Wet op Vergoeding van Beroepsbeserings en -siektes waaraan alle werkgewers wetlik verplig word om te behoort en aan wie hulle betalings moet maak. Ingevolge hierdie wet word werkgewers gelas om werknemers wat langer as drie maande afgeboek word weens ’n besering aan diens, vir drie maande te vergoed teen 75 persent van die werknemer se inkomste voor die voorval,” verduidelik Kellie.

“Soill het voortgegaan om aan Christo sy volle salaris vir die eerste jaar ná die voorval te betaal, met inbegrip van sy normale jaarlikse aanpassing. Soill het aan Christo en sy gesin noemenswaardige finansiële steun gegee ten tyde van sy hospitalisasie in die vorm van verblyf, reiskoste, telefoononkoste, ensovoorts.”

Die maatskappy se vergunningsooreenkoms met Christopher behels dat hy vir die tydperk 1 September 2015 tot 30 Augustus 2016 sy volle salaris ontvang het en sy verblyf, lidmaatskap tot ’n gimnasium en onkoste vir sielkundige berading vir 12 maande deur die maatskappy betaal is.

[caption id="attachment_156850" align="alignnone" width="450"]Christopher Carstens en Natalie Rupping saam met hul dogtertjie, Aurora Lilly-Rose. Foto: Verskaf Christopher Carstens en Natalie Rupping saam met hul dogtertjie, Aurora Lilly-Rose. Foto: Verskaf[/caption]

Na afloop van die 12 maande sou Christopher terugkeer werk toe waar hulle vir hom ’n “geskikte pos” aangebied het. Christo se finale mediese verslag was gedateer 3 April 2016 en het bevind hy is geskik vir werk in ’n sittende posisie.

Ja, hulle het hom alternatiewe werk aangebied, “maar wat hul woord was en wat die werk op papier was, verskil dag en nag,” meen Christopher. Die stoorkamer waarin hy heeldag vasgekluister sou wees, was nie rolstoelvriendelik of veilig nie.

“Soill het Christo se beperkings ten volle in ag geneem met die posisie, maar het geen reaksie van Christo ontvang nie,” sê Kellie.

Christopher stem nie saam nie. “Ek het wel werk toe teruggekeer. Drie keer,” sê hy. Elke keer het hulle hom glo huis toe gestuur omdat hulle kwansuis nog besig was om vir hom spesiaal ’n kantoor in te rig. “Hulle wil my nie regtig daar hê nie,” voel hy.

[caption id="attachment_157361" align="alignnone" width="605"]Christopher Carstens. Foto: Verskaf Christopher Carstens. Foto: Verskaf[/caption]

 

Maar niks van hierdie goed maak nou eintlik vir hom saak nie. As hy net ’n Wendy-huisie vir sy gesin kan oprig voor sy babaseun hier is.