Die getuienis oor hoe ’n man en sy vrou glo in dié huis hul vyf kinders vir jare mishandel en verwaarloos het, is genoeg om enigiemand se hare te laat rys.

Die egpaar se name mag nie genoem word nie om die identiteit van hul kinders te beskerm.

Lees ook: Verdere besonderhede van kindermisbruik in ‘huis van gruwels’ kom aan die lig

In die hof is foto’s gewys van hoe vuil die huis binne- en buite was. Komberse en klere het rondgelê. Vuilgoed het rondgedryf op die klein bietjie water wat nog in die swembad was. Op een van die foto’s was selfs ’n rot sigbaar.

Maar wanneer jy vandag voor Plantasieweg 36, Springs, stilhou, kan jy nie dink dit is dieselfde woning as twee jaar gelede toe die huis en al sy gruwelstories op die lappe gekom het nie.

Jy kan nie glo dit is die huis wat selfs weke ná die man se inhegtenisneming in Mei 2014 nog vuil was en ’n reuk gehad het nie. Lynn Weir-Smith, wat toe die opsigter daar was, het destyds aan Huisgenoot vertel hoe die reuk haar naar gemaak het. Dit was deurmekaar en vuil en sy kon nie die skoonmaakproses sonder handskoene aanpak nie.

Lees ook: Skokkende besonderhede oor Springs se ‘huis van gruwels’ kom aan die lig

Die huis is verkoop en word nou gerestoureer. Niemand woon al daar nie. Al wat jy nou sien, is bouers wat werskaf. Daar is nie eens meer ’n veiligheidswag in die geboude hokkie by die hek nie.

Dit is heeltemal anders as destyds toe die man ’n veiligheidswag betaal het om seker te maak die polisie kom nie by sy erf in nie. Die veiligheidswag is glo ook gereeld met die handradio ingelig hy moet gaan kos koop vir die kinders, want hulle mag nie die huis verlaat nie, het Lynn destyds vertel.

Die groen spitspaalheining waar mense lief was om deur te kyk om te sien wat op die erf gebeur het, is nou vervang met ’n mooi geel geverfde muur en houthek. Waar dit ’n donker erf was weens al die bome, is dit nou oop en lig nadat die erf skoongemaak en van die bome verwyder is.

Lees ook: ‘Ek het in huis van gruwels gebly’

Nêrens woon meer mense in armsalige toestande in kamers op die werf nie. Dié kamers is almal opgeknap. Van hulle het die mooiste vensters en deure.

Die man en sy vrou ontken skuld op sowat 20 aanklagte van onder meer die mishandeling en verwaarlosing van hul vyf kinders.

Die oudste kind is nou 18 jaar oud en die jongste vier. Die pa word ook daarvan aangekla dat hy die oudste verkrag en seksueel aangerand het. Hy beken skuld op ’n aanklag dat hy die polisie gekeer het om hul werk te doen.

Die saak is uitgestel tot 31 Oktober.

Ander stories op Huisgenoot.com

Reef Carneson, die terminaal siek seuntjie, eindelik skool toe!

Kan jy raai watter SA ster lyk op ’n haar soos die Suits-akteur Gabriel Macht?

#Tempos2016: Stem nóú vir vanjaar se wenners en jy kan ’n motor wen

12-jarige se musiektalent verstom selfs die kwasterige Simon Cowell

Oppasser wat seun ‘mishandel’, aangekeer ná aanlyn woede