Want nadat ’n koue front Pretoria hierdie naweek tref, lê ’n ander soort koue, die koue van ’n tronksel, heel moontlik vir die wêreldberoemde lemnaeller voor wanneer hy na verwagting teen einde volgende week tot verdere tronkstraf gevonnis sal word.

Dit is nou as sy vonnisverrigtinge volgende week in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria afgehandel word.

Dit is op die hofrol van Maandag tot Vrydag. Oscar moet opnuut gevonnis word nadat die appèlhof in Bloemfontein beslis het hy het sy meisie, Reeva Steenkamp, vermoor toe hy haar op Valentynsdag 2013 deur ’n toe badkamerdeur geskiet het.

Oscar het vir die eerste keer sedert daardie dag ’n onderhoud toegestaan oor sy weergawe van wat in die vroeë oggendure in sy huis in die luukse Silver Woods-landgoed in die ooste van Pretoria gebeur het. ’n Dokumentêr genaamd Oscar Pistorius: The Interview, waarin hy met Mark William-Thomas gesels, sal op 24 Junie op Brittanje se ITV-kanaal uitgesaai word.

Die kans is goed dat Oscar dan nie meer by sy oom Arnold Pistorius se luukse huis in Waterkloof sal wees om dit te kan kyk nie. Hy sal heel moontlik dan reeds agter tralies wees.

Marius du Toit, ’n prokureur van Centurion, sê hy sal verbaas wees as Oscar nie teen volgende Vrydag gevonnis is nie, “want al die getuienis is klaar aangebied”.

“Die verslae is reeds in die verhoor aangebied. Die basis van die verslae is dieselfde. Die inhoud van die verslae is dieselfde. Daar het geen nuwe inligting bygekom nie.

“Al verskil is die opsies vir vonnis en die aanbevelings, want nou is die misdaad moord en nie meer strafbare manslag nie.”

Marius se voorspelling is dat Oscar tot 10 jaar tronkstraf gevonnis sal word. Hy sê toe regter Thokozile Masipa hom in Oktober 2014 vonnis, het sy in haar uitspraak gesê die strafbare manslag waarvoor sy hom straf, is nalatigheid wat grens aan opset, “so regter Masipa het hom reeds aan die bokant van die skaal van strafbare manslag gestraf”.

Aan die een kant van die vonnisskaal, sê Marius, het Oscar reeds vyf jaar weens strafbare manslag gekry. Al maak die wet voorsiening dat hy net 10 maande daarvan binne die tronk moet uitdien, het Oscar op die ou end ’n jaar agter tralies deurgebring.

Aan die ander kant van die vonnisskaal is die minimum vonnis wat die wet bepaal vir moord opgelê moet word, behalwe as daar wesenlike en dwingende omstandighede is wat kan maak dat die regter van die voorgeskrewe vonnis afwyk.

“My redenasie is dat Oscar reeds ’n jaar in die tronk gesit het. Hy het alles verloor. Sy atletiekloopbaan is oor en verby. Hy is finansiëel geruïneer. Daarby is hy reeds tot vyf jaar weens strafbare manslag gevonnis. Hy is van hero tot zero weens die verrigtinge. Vir hom is sy hele lewe ook verander. Dit alles regverdig dat hy so 10 tot 11 jaar tronkstraf opgelê word.”

Ian Levitt, ’n prokureur van Sandton, se voorspelling is ’n vonnis van tussen agt en 10 jaar. Volgens Ian het regter Masipa tydens die verhoor bevind Oscar het nie geweet dit is Reeva wat agter die toiletdeur was nie.

“Regter Masipa gaan bevind dat Pistorius gedink het dit is ’n inbreker of rower agter die deur. Al is dit moord, is die vonnis weens die moord op ’n inbreker of rower ligter as dié van die moord op jou vrou of meisie,” sê Ian.

Dr. Llewellyn Curlewis, president van die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies, dink regter Masipa gaan Oscar nog volgende week vir 12 jaar tronk toe stuur.

Hy sê met die vorige vonnisverrigtinge het dit drie dae geduur om die vonnisverrigtinge af te handel. Al wat nou bykom, is om die hoogtepunte van die vorige getuienis uit te lig en dan sal daar waarskynlik een of twee deskundiges kom getuig oor direkte tronkstraf, wat die impak daarvan op hom sal wees en moontlike versagtende omstandighede.

“Regter Masipa het met die vorige rondte gewys sy is simpatiek teenoor Oscar. Sy het die diskresie om van die minimum vonnis van 15 jaar vir moord af te wyk. Dan moet die jaar wat hy reeds in die tronk was, ook afgetrek word.”

Lees ook op Huisgenoot.com:

Nike staan bankvas agter Maria Sharapova

EKSKLUSIEF: ’n Groot gunsteling verlaat die Laan

Errol se meisie het nie een varkie in die hok nie

Mamma Mia! Abba-aanhangers sal hiervan hou

Bisarre foto’s en video’s: So versorg ’n mens jou hare en naels in die ruimte . . .