59.

Presies 59 Van der Merwes gaan Sondagoggend baie vroeg, terwyl die meeste van ons nog slaap, by die stadsaal in Durban aantree om aan die 92ste Comrades-marathon deel te neem.

Om halfses sal die skoot klap en 21 457 atlete van reg oor die wêreld sal die roete van Durban na Pietermaritzburg aandurf.

En hulle het 12 uur om die 86,73 km kaf te draf.

Saam met die 59 Van der Merwes, gaan 129 mense met die van Dlamini hardloop – die algemeenste van onder vanjaar se deelnemers.

Altesaam 109 mense, wie se van Ndlovu is, gaan aan die wedloop deelneem en 89 Smiths. Daar is ook 80 Bothas, 64 Pretoriusse, 51 Coetzees, 49 Van Wyks en 46 Venters in die groep.

Waar werk die atlete?
Volgens vanjaar se media-gids met al die statistiek van vanjaar se wedloop, is die algemeenste beroep onder deelnemers die van “bestuurder”. Daarna het 1 183 van die deelnemers hul eie onderneming.

Altesaam 1 151 rekeningkundiges en ouditeurs gaan vanjaar deelneem. Dit is die beroep wat derde meeste voorkom.

En 1 003 ingenieurs gaan Sondag hardloop, 527 onderwysers en 452 polisiebeamptes. Altesaam 425 van die deelnemers is advokate of prokureurs en 367 is mediese dokters.

Dan is daar ook 163 verpleegsters, 143 boere, 77 aptekers, 73 makelaars, 66 argitekte, 62 sielkundiges, 55 brandbestryders en 54 tandartse.

Vier regters gaan ook Sondag hardloop, so ook drie omroepers en net een burgemeester.

Die oudste en die jongste
Die oudste deelnemer is die 80-jarige Calie Beneke. Joshua Wolmarans, wat Sondag sy 20ste verjaardag gaan vier terwyl hy die Comrades hardloop, is die jongste deelnemer.

Hardloopskoene
Altesaam 6 679 mense gaan die lang pad met hul Asics aanpak. Die tweede gewildste handelsmerk is Nike met die dat 3 478 mense dié tekkies aan hul voete gaan hê. Daarby sal 2 476 mense met New Balance-tekkies hardloop en 2075 met Adidas.

Van waar kom hulle?
Die meeste atlete is Suid-Afrikaners. Altesaam 19 529 Suid-Afrikaners gaan aan Sondag se wedloop deelneem. Tweede in die ry is die 319 mense wat van Engeland af kom en daarna is dit 196 atlete van Amerika.

Dan kan jy ook op die uitkyk wees vir 63 Russe, 39 Nederlanders, sewe Mexikane, vyf Italianers en een Egiptenaar.

Suid-Afrikaners moet R460 betaal om in te skryf. Vir mense van ander Afrika-lande is die inskryfgeld R770 en vir internasionale atlete beloop dit R2 650.

Die pad tot by die eindstreep is ver en die organiseerders sorg jaar na jaar dat daar genoeg versnaperings en energiehappies langs die pad is. Vanjaar is ook nie anders nie. Daar sal 45 stasies wees met meer as 4 000 vrywilligers wat na die atlete sal omsien.

Ook sal 30 350 L Coke, 10 650 L Fanta en Creme Soda en 51 360 bottels Energade (500 ml) beskikbaar wees.

Langs die pad is 1 875 miljoen sakkies water, 9 ton piesangs, 8 ton lemoene en 1 ton koekies vir die atlete beskikbaar. So ook 21 000 heuning-nougat-stafies en 3 ton gaar aartappels.

Nooddienspersoneel is gereed met 14 ambulanse en ses reaksie-voertuie en ses motorfietse. ’n Helikopter sal op bystand wees indien daar ’n noodgeval is.

Die prysgeld vir die man- en vrouewenner beloop vanjaar R425 000.