Menige mense sal twee keer dink voor hulle besluit om hul katte saam te neem op hul volgende kampeer-uitstappie. Maar dié oulike foto’s is dalk net wat jou kietsie ook sou wou doen.

Maar, soos die webwerf Adventure Cats jou waarsku, dis nie net ’n kwessie van ’n halsbandjie aansit en daar trek julle die wye wêreld binne nie.
Net soos hul mensvriende kry jy ook katte wat kampeerders is en katte wat rusbankreisigers is. Moet dus nie summier besluit basta en jou kat nie inpak op jou volgende vakansie nie. Maar as jy nog nie kennis gemaak het met ’n ongelukkige langlip-tiener nie, sal jou kat jou bitter gou laat weet jou idee van pret is nie sy idee van pret nie.
Die Amerikaanse Dieresorgvereniging het ’n lysie saamgestel waarvolgens jy kan uitwerk of jou kat kampeergereed is al dan nie. Hulle verdeel katpersoonlikhede in drie kleurkategorieë. Groen katte is avontuurlik, vindingryk en onverstoorbaar. Oranje katte is “goeie geselskap” en pers katte soek aandag, is redelik stil en geneig om nie kattekwaad aan te vang nie.
Groen katte is oor die algemeen veilige kampmaats. Maar moenie jou kat forseer om ’n avonturier te wees nie.

Hulle raai aan dat jy jou kat gerieflik moet hou tydens uitstappies en dat dit deel van ’n roetine moet wees.

Deel van jou kat se kampavonture moet wees om hom gewoond te maak aan ’n harnas, maar dis ook belangrik dat dit die regte (en helderkleurige) harnas moet wees; maklik om aan te sit en af te haal.

Wat jy in gedagte moet hou as jou kat jou gaan vergesel:

1. Maak seker jul bestemming verwelkom troeteldiere. 2. As jou kat haarloos is of fyn, ligte hare het moet jy maar sonbrandmiddel inpak. 3. Pak die regte kos vir jou kat in. Kos wat hy tuis ook geniet en in dieselfde hoeveelhede. Bring ’n ekstra bietjie saam net vir ingeval. 4. Nes jy moet jou kat ook genoeg vloeistof inneem. 5. Party katte is baie geheg aan hul sandbakke. Neem dit en ’n gunsteling-speelding saam. 6. Moet nooit jou kat alleen laat nie. 7. En les bes: Katte kan jou kampervaring opkikker of opfoeter. As jy hieroor twyfel, los hom dan liefs by die huis.

Bronne: aspcapro.org , adventurecats.org, boredpanda.com