Toe Addie en Marshall Burnette verloof raak, het hulle twee besluite geneem: om te trou op die plek waar hulle mekaar 10 jaar tevore ontmoet het, en om hul Siberiese sleehond, Ryder, die plegtigheid te laat afneem.

“Dit was koud en betowerend,” skryf Marshall op YouTube. “Ons hond, Ryder, het aangedring om die trouvideo te skiet, toe laat ons haar maar begaan. Sy het ’n rukkie geneem om die materiaal te redigeer, maar ons dink sy het haar goed van haar taak gekwyt.”

Die twee het ’n GoPro-kamera aan hul hond se halsband vasgemaak en haar tydens die geleentheid op die berg Roan in die Amerikaanse deelstaat Tennessee laat ronddraf.

“Ons het Ryder gekry ’n jaar nadat ons begin uitgaan het en ons behandel haar soos ons eerste kind,” het Addie aan The Huffington Post gesê.

“Sy sou dus altyd by ons troue betrokke gewees het. Die idee om ’n GoPro op haar vas te maak, het vanselfsprekend gelyk.”

Die unieke beeldmateriaal het soos ’n veldbrand versprei en vang al die belangrike oomblikke van die wit sprokiestroue vas. Die video wys hoe Ryder ronddraf en na al die voorbereidings vir die bruilof loer.

“Dis die enigste video,” sê sy. “Daar’s baie verrassende oomblik in haar beeldmateriaal. Dit het my amper hartseer gemaak, want sy is altyd so nuuskierig oor alles wat aangaan – daar’s hierdie heel ander wêreld – dis die klein oomblikke wat jou laat besef sy is deel van die ervaring.”

Die video neem kykers op ’n reis wat begin met ’n vriendelike verwelkoming deur die bruid wat gereedmaak. Sy omhels Ryder en blaas vir die kamera ’n soen. Dit vervolg waar Addie haar rok aanhet en ’n fotograaf haar afneem voor sy na die plegtigheid vertrek. Dan draf Ryder tussen sneeubedekte bome deur en gee kykers ’n glimp van die pragtige omgewing voor die video eindig waar die twee mekaar die jawoord gee.

Die beeldmateriaal is al duisende keer gekyk sedert dit die eerste keer gelaai is en kykers lewer kommentaar oor watter skitterende video Ryder gemaak het.

Die gebruiker Schaaf sê skertsend:“Ek erken ek het nog nie voorheen ’n trouvideo gesien nie en waag dit steeds om te sê dis die beste een wat ek nog gesien het,” terwyl Kerrie Pelkey laat hoor het: “Ongelooflik, mense, ongelooflik.” Minor Life het die twee met hul troue gelukgewens en hul idee geloof. “Wat ’n skitterende idee! Welgedaan, Ryder! Geluk aan almal! :)”

Bronne: huffingtonpost.com, Boredpanda.com