’n Verwoestende reeks veldbrande in die omgewing van Worcester en Rawsonville in die Wes-Kaap het brandbestryders en nooddienste op hete kole gehad.

Die gewilde ATKV Goudini-Spa is Woensdag ontruim nadat die “vlammemuur” te na aan die oord beweeg het.

“Altesaam 965 mense is ontruim,” het Ranaldo van Rooy, bemarkingsbestuur van die ATKV Goudini-Spa, Donderdag aan Huisgenoot bevestig.

Die ontruiming het van omstreeks tienuur die oggend tot vieruur die middag geduur. Nooddienspersoneel, brandbestryders en helikopters het almal gedurende die proses hand bygesit. “Drie rondawels (naby die grensdraad) is beskadig,” sê Ranaldo. “Die mense wat ontruim is, was meesal kalm, maar daar was vanselfsprekend ook ’n paar wat paniekerig was.” Mense in die kontrei het ingespring en gehelp om seker te maak almal is ongedeerd. “’n Paar mense is vir rookinaseming behandel,” sê Ranaldo.

’n Groepie nooddienspersoneel en brandbestryders is nog op die toneel om seker te maak alles is in orde. Die situasie kon wel baie erger gewees het as wat dit was.

Reinard du Plessis, bemarkingshoof van die ATKV-Sakegroep, vertel: “Ons is baie dankbaar. Ons het bitter min skade gely en niemand is beseer nie.”

Die ATKV sê op sy Facebook-blad wat gaste nou te doen staan.

  1. Goudini Spa is operasioneel en gaste wat vir die naweek bespreek het, kan gerus kom.
  2. Die oord sal gaste wat gister (Woensdag) of vandag (Donderdag) moes aangekom het, nader vir terugbetaling of verskuiwing.
  3. Gaste wat nog nie hul besittings afgehaal het nie, kan dit nou doen.