Redakteursnota:

Die regering het verskeie projekte aan die gang om die watertoevoer na Kaapstad te verhoog. Ons verduidelik dit in hierdie artikel. Maar altesaam kom dit neer op minder as 100 miljoen L per dag in die kort- tot mediumtermyn – sowat 15 persent van ons daaglikse waterverbruik. Dit is nie genoeg nie. Ons moet minder water verbruik. 

Die Stad sê dit is moeilik om die laaste 10 persent van water in damme te gebruik, wat beteken die damvlakke is vir praktiese doeleindes sowat 16 persent, berig GroundUp.

Vir ’n stad wat histories op nat winters staatmaak, is dié syfers ysingwekkend. Boonop lyk die toekoms droër.

Die Wes-Kaapse regering se direktoraat vir rampbestuur skat die reënval sal teen 2050 met 30 persent afneem. Ons het verskeie staatsbeamptes gevra wat die plan is om te voorkom dat die stad se krane opdroog.

Organisasies en mense wat beweer daar is ’n wondermiddel buiten die vermindering van verbruik – en selfs dít is dalk nie genoeg as ons nie nog reën kry nie – is eenvoudig verkeerd. Dit is nie te sê dat maniere om meer water aan die stad te verskaf nie oorweeg moet word nie, maar die uitwerking daarvan moet ook nie oordryf word nie.

Nog beperkings

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid gemoeid met water, sê strenger beperkings sal ingestel word om verbruik te verminder. Tans geld vlak 4b-beperkings in die stad. Dit beperk watergebruik tot 87 L per persoon per dag.

Die Stad wil hê daaglikse waterverbruik moet tot 500 miljoen liter afneem. Die gemiddelde daaglikse verbruik in die week geëindig 16 Julie was 613 miljoen L. Dit is ’n verbetering op die afgelope paar jaar, maar steeds te hoog.

Volgens syfers wat die Stad verskaf het, gaan 65 persent van sy water na formele residensiële klante. Die helfte daarvan word vir nienoodsaaklike doeleindes gebruik – swembaddens vul, tuine natmaak en motors was.

Om lekplekke te herstel en nywerheidsklante (wat 4 persent van munisipale water gebruik) in die visier te stel, “sal nie die vereiste verskil maak nie,” sê Limberg.

Meer personeel

Limberg sê sowat 75 mense is in die afgelope maand aangestel om waterklagtes te hanteer. Hulle moet probleme identifiseer en veral lekplekke opspoor en seker maak dit word herstel.

’n Wateradvieskomitee bestaande uit kenners uit verskeie velde – akademie, sake, en die burgerlike samelewing – sal raad en oorsig aan die Stad bied.

’n Waterveerkragtigheidstaakspan is ook gestig, onder leiding van Craig Kesson, om die Stad se reaksie op die krisis te bestuur. Limberg sê die span “werk aan ’n aantal subprojekte in die kort termyn”.

Die grafiek van ’n voorlegging van die Stad Kaapstad toon waterverbruik is aan die stabiliseer ten spyte van bevolkingsgroei. Maar verbruik moet nog verder afneem.

Ontsouting op die horison

Op 19 Junie het die Stad ’n versoek vir inligting (VVI) geplaas om moontlike sonder- winsoogmerk- en winsoogmerk-maatskappye te vind wat bereid is om in vennootskap met die Stad te gaan om waterherwinnings- en ontsoutingsaanlegte te vestig.

Ontsouting beteken om seewater tot vars water te suiwer. Die vennote sal “tydelike aanlegte op verskeie plekke langs die kus en op sekere binnelandse liggings verskaf, installeer en bedryf,” sê Limberg.

Die doelwit is om die eerste aanleg teen die einde van Augustus in werking te hê. Dit sal minstens ses maande werk. Die VVI het op 10 Julie gesluit. Nog planne vir mediumtermynontsouting en waterherwinning sal deur die uitslae van die VVI gelei word. Dit is nog nie bekend hoeveel water dit sal lewer nie.

Limberg sê die Stad ondersoek die huur van ontsoutingseenhede ter see. Dié eenhede kan “tot 500 miljoen L per dag lewer,” sê Limberg. Rakende besonderhede oor die tydvak, verskaffer en aantal eenhede wat oorweeg word, sê Limberg: “Dit is in hierdie stadium te vroeg om te sê.”

Akwifeerontginning

Wanneer daar geboor word tot in natuurlike ondergrondse rotslae wat met water versadig is en die water na die oppervlak gepomp word, staan dit as akwifeerontginning bekend.

Volgens ’n kaart van 2012 van Kaapstad se akwifere het die stad beduidende ondergrondse water. 

Die Stad bestudeer die ontginning van die Kaapse Plooiberge- of Tafelberggroep (TBG)-akwifeer, wat van Vanrhynsdorp tot Mosselbaai strek. Dié projek is vir 2022 tot 2026 geskeduleer.

Limberg sê die rede vir die vertraging is ’n nasionale projek wat voorkeur geniet: die Bergrivier-Voëlvlei-aanvullingskema. Die TBG-projek sal eers begin nadat fase een van die nasionale projek voltooi is.

Maar die Stad bespoedig toetsboorgate tot in die TBG-akwifeer vir ’n opbrengs van 2 miljoen L per dag. Die plan is om boorgate een-een by te voeg tot die mikpunt van 10 miljoen L per dag bereik word. Die geskatte boukoste daarvan is R85 miljoen.

Reclaim Camissa

Die Camissa-fonteinwater vloei deur ’n reeks ondergrondse tonnels van Tafelberg tot in die see. Die voorspraakgroep Reclaim Camissa noop die Stad om dié water te gebruik.

Die Stad het die potensiaal verken om die water te ontgin vir sy vermoë om tot drinkbare watervoorraad by te dra. Maar Limberg sê die Stad het gevind dit is nie die uitgawe werd nie. “Filtrasie- en ontsmettingsversperrings sal vereis word om die gemeenskap se gesondheid te beskerm, asook ’n druktoevoer tot in die aangrensende netwerk en bykomende personeel om die behandelingsproses te beheer,” sê Limberg.

Sy sê die kostedoeltreffendste en eenvoudigste sal wees om dié water vir alternatiewe doeleindes soos besproeiing en nywerheid te gebruik. Die Stad berei tans ’n lisensieaansoek voor vir die verdere gebruik van die fonteine.

Nog navorsing is nodig om die opbrengs van die Camissa-fonteinwater te beraam en baie ondersteuners van Reclaim Camissa verskil ongetwyfeld van die Stad se beoordeling.

Waterherwinning

“Herwinning” is ’n beleefde manier om te sê “water uit riool onttrek”. Limberg sê die Stad “het die wiel aan die rol gesit” vir ’n afvalwaterhergebruikaanleg by die Zandvliet-afvalwaterbehandelingsaanleg. Sy sê die aanleg sal 10 miljoen L hoëgehaltedrinkwater per dag vir die sentrale en suidelike voorstede kan lewer. Die aanleg sal na raming R120 miljoen kos om te bou.

Wat van die nasionale en provinsiale regering?

Die provinsiale regering het geen van GroundUp se vrae beantwoord nie, maar ons na Limberg en die Stad verwys.

Die nasionale departement van water en sanitasie (DWS) het planne om water met die Bergrivier-Voëlvlei-aanvullingskema van die Bergrivier na die Voëlvleidam te herlei.

Die minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane, het die projek goedgekeur vir finale lewering in 2020, maar die datum hang af van “die verkryging van befondsing buite die begroting en afhandeling van die ontwerpe van die siviele ingenieurswerke”, sê Sputnik Ratau, woordvoerder vir die DWS.

Die bouwerk is veronderstel om in 2019 te begin en die geprojekteerde koste is R550 miljoen. Die projek ondergaan tans ’n omgewingsimpakbeoordeling. 

Ratau sê daar word “in hierdie stadium glad nie beplan om damme te ontslik nie”. Hy sê die meeste van die damme wat water aan die Stad verskaf, is gebou in streke met ’n lae opbou van slikneerslag. Op die vraag of daar planne is om bykomende damme te bou, sê Ratau: “Nie op die oomblik nie.” Hy voer aan daar is ’n gebrek aan beskikbare water en geskikte onontwikkelde liggings. 

Maar Ratau sê “opsies bestaan om een of twee kleiner damme in die stelsel te verhoog en word oorweeg”. Die tender vir die verhoging van die Clanwilliamdam (in die Olifantsrivier geleë) is byvoorbeeld in sy “finale fases van oorweging”. Sodra die projek aan ’n boumaatskappy toegeken word, sal daarmee begin word.

Bron: News24