Dit gaan ongelukkig nie dié keer ’n algehele sonsverduistering wees nie. Jy sal dit môre tussen 09:31 en 12: 38 in Johannesburg kan sien, en tussen 09:43 en 11: 58 in die Kaap.

Maar wat is ’n sonsverduistering?

“Die maan se baan om die Aarde is effe gekantel teenoor ons baan, wat om die son draai,” verduidelik Willie Koorts van Suid-Afrikaanse Astrologie-observatorium in Kaapstad.

Volgens Willie ervaar ons twee maal per jaar sonsverduisteringseisoene, waar die Aarde deur die snypunte van hierdie bane beweeg. Die son, maan en Aarde lyn dan perfek op sodat die maan se skaduwee op die Aarde val (maansverduistering) of die maan s’n op die Aarde (sonsverduistering).”

Môre beweeg die maan tussen ons en die son in. ’n Happie sal dus uit die son weg wees en die son sal “krimp” tot daar ná twee uur niks meer is nie.

Die beste plek om die verduistering te sien is van Sentraal-Afrika, sê Willie. Volgens hom sal die Kapenaars ongelukkig nie so ’n skouspelagtige vertoning kan sien soos Gautengers nie.

“Interessant genoeg, selfs op die plekke waar die drie ’n perfekte lyn vorm, gaan dit ook nie vanjaar ’n algehele sonsverduistering wees nie. Die maan is wel 400 maal kleiner as die son, maar dis ook 400 maal nader, wat beteken van die Aarde af beskou, kan die maan die Son net mooi bedek.”

Hy sê die maan se wentelbaan is effens ellipties, wat beteken hy is soms verder van die Aarde af as ander tye. Vanjaar is hy verder wanneer hy verby die son beweeg en dus sal hy nie die hele son bedek nie.

Hoe kan ek veilig na die sonsverduistering kyk?

Dis baie gevaarlik om sonder oogbeskerming direk na ’n verduistering te kyk, sê Willie. “’n Mens se oog het nie gevoel nie en jy weet dus nie wanneer jy dit beskadig nie – veral in liggolflengtes wat jy nie kan sien nie, soos infrarooi (hitte) en ultraviolet (wat jou sonbrand gee). Teen die tyd dat jy agterkom jy het oogskade, is dit dus te laat, so wees baie versigtig waarmee jy kyk.”

Items wat jy nie moet gebruik nie:

’n donkerbril

X-straalplate

donker film

swartgerookte glas

Items wat gebruik kan word:

’n Verduisteringsbril, want hulle is getoets om nie skade te veroorsaak nie.

’n Sweisbril met no. 14-glas is veilig as jy ’n paar sekondes op ’n slag kyk.

Jy kan ook ’n “pinhole”-kamera maak om dit veilig te volg. Kyk hoe maklik is dit om jou eie te maak.