Die geliefde nuusleser Riaan Cruywagen het onlangs die Koekedoor-stel besoek en maak ’n gasverskyning in Donderdagaand se loodsepisode van die tweede seisoen.

koekedoor
In dié weklikheids-bakkompetisie, wat laasjaar ’n wafferse meelstorm ontketen het, word tien amateurbakkers uitgedaag om selfs groter, hoër, mooier, meer gewaagd en verder buite hul gemaksone te bak as met die eerste reeks – soms met uitstekende en soms met rampspoedige resultate.

Lees ook: Ontmoet Koekedoor 2 se tien nuwe deelnemers

Die man met die kenmerkende stem vertel ons in sy eie woorde van sy beste kosherinneringe en hoe dit was om op die stel te gaan kuier:

[caption id="attachment_122647" align="alignnone" width="600"]Soos altyd kon jy Riaan deur 'n ring trek tydens sy besoek aan die Koekedoor-stel. Foto: Verskaf Soos altyd kon jy Riaan deur 'n ring trek tydens sy besoek aan die Koekedoor-stel. Foto: Verskaf[/caption]

Ek is net so opgewonde oor my gasverskyning op Koekedoor 2 soos die aand voor ’n kerkbasaar!

Die tema van ’n bordjie soet en ’n bordjie sout is verskriklik oulik. By die lees van jou brief was ek enersyds verstom oor die groot verskeidenheid wat op sulke bordjies gepak kan word, en andersyds was ek oorbluf deur sommige van die ghrênd name waarmee klein happies geëtiketteer word; van my Frans I-klasse op Stellenbosch onthou ek immers net Chevrolet Coupé!

Ek is ’n smulpaap en lewensgenieter wat amper alles met smaak geniet wat aan my voorgesit word. Let wel, amper alles, want daar is bepaalde dinge wat ek verkies om nie te eet nie omdat dit eenvoudig nie vir my lekker is nie.

Dit kan ek sommer hier al noem: seldery, room, meringue, gemmer, marsepein, alle eetgoed met ’n koffiegeur – dié ses goed laat ek onaangeraak nadat dit deur ’n welmenende gasvrou se toedoen op my bordjie beland het. Ek het grootliks souttande in my gebit, maar daar is darem ook ’n paar soetes.

HERINNERINGS:

Vertel ons van jou herinnerings en ervarings van die bordjie soet en bordjie sout by funksies en geleenthede.

In my leeftyd het ek seker al honderde – dalk selfs duisende – bordjies soet en sout verorber. Sonder uitsondering was dié wat vars gemaak is, die lekkerste.

Ou toebroodjies met ’n uitgedroogde buitekant en skraps vulsels wat selfs die Armsorg sou laat frons, is gewoonlik ’n aanduiding dat die res van die happies ook nie danig vars gaan wees nie. Gelukkig was sulke bordjies ver in die minderheid.

Vir hoe meer mense daar voorsiening gemaak moet word, hoe minder smaaklik is die happies, lyk dit my. Dis seker waarom my oorle ma en oorle ouma se bordjies altyd vir my die heel lekkerste was.

Die happies was absoluut vars en van afskeep was daar nooit enige sprake nie – die worsrolletjies was behoorlik gevul (ai, my ma s’n was koning, met smake van tiemie, koljander, uie en neutmuskaat duidelik herkenbaar), die skilferkorsdeeg so lig soos satyn . . .

Elke dingetjie wat ’n vulsel had, was ordentlik gevul – soos ’n mooi meisie ’n bikini vul, as jy my die stuitigheidjie sal veroorloof!

My ma en my ouma het besef dat mense se smaak verskil; daarom het hulle nie self mense se bordjie gepak nie. Nee, hulle het die verskeidenheid happies pragtig op skinkborde gerangskik wat óf op ’n groot tafel uitgestal is óf tussen die gaste rondgedra is sodat elkeen kon neem waarvan hy of sy hou. En nee, die binnekant van ’n tuisnywerheid het Ma en Ouma nooit gesien nie

Wat was tipies van dit wat jy kan onthou?

Ek het my altyd verkneukel in die ongemak van mense wat met ’n glas wyn in die een hand en ’n bordjie in die ander hand staan en sukkel.

Gewoonlik is die bordjie so volgepak dat daar nie ’n staanplekkie vir die wynglas ingeruim kon word nie. Dan kies hulle gewoonlik koers na ’n vensterbank of ’n klavier of ’n ding waarop hulle iets kan neersit.

En wanneer daar byvoorbeeld ’n wiggie souttert geëet moet word en die vurk is aan die groterige kant, foeter die ding gewoonlik van die bordjie af terwyl die wynglas tot elke prys regop gehou moet word.

Dit is waarom ek altyd op ’n onthaal ’n onopvallende plastiekhouertjie in my sak het wat netjies en stewig aan ’n bordjie vasknyp waarin jou wynglas dan sekuur en veilig rus terwyl jy ’n hand vry het om die happies mee te hanteer. (Ek sal een saambring om vir jou te wys as jy dit nie ken nie.)

Wat sal jy die graagste op jou bordjie soet en bordjie sout wou sien (enigiets, al is dit iets wat ons reeds op Koekedoor gedoen het). Wat het jy vermy?

Soetigheid: ’n Blokkie kaaskoek met koejawelpuree, ’n piesang-en-karameltertdoppie, ’n klein melktertjie, enigiets met grenadella, ’n verskeidenheid petit fours, ystervarkies, klein appeltertjies. Wat ek altyd vermy: Alles met ’n koffiesmaak, meringue, gemmer, marsepein en (meestal ook) room.

Soutigheid: Worsrolletjies, tradisionele souttertjies, vol-au-vents, samoesas, kaasstokkies met blatjang, pannekoekies met geurige soutvulsels, minipizza’s, horinkies met avokado-mousse. Wat ek altyd vermy: Elke vorm van seldery, murgpampoentjies. En bloot omdat dit onprakties is om te hanteer, vermy ek hoenderboudjies en -vlerkies en eetgoed aan ’n been of stokkie wat moeilik is om fatsoenlik te eet!

As bekende persoonlikheid word jy ook baie na geleenthede genooi. Wat is van die vreemdste goed wat jy op die onthale eet?

Ek eet net goed wat ek ken en herken – veral op Oosterse onthale loop ek katvoet om seker te maak ek peusel nie aan ’n ding wat vroeër vir my geblaf, gemiaau, gekwaak of my probeer pik het nie!

In die algemeen is my geliefkoosde soet smake is dié wat gebaseer is op tropiese vrugte soos grenadella, piesang, koejawel, pynappel, sitrus – almal met ’n tikkie suur in die smaak. Maar ek hou ook baie van karamel.

Benewens gewone tafelsout is my geliefkoosde sout smake dié wat ’n tikkie kerrie, knoffel, ui, asyn of enige Mediterreense speserye by het (bv. Marokkaans, Grieks, Turks). En ek is versot op soetrissiesous en lekker blatjang. ’n Middernaghappie bestaande uit ’n sny roosterbrood met Bovril of grondboontjiebotter MET soetrissiesous daaroor gesmeer, is vir my ’n heerlike bederfie.

Waarvoor jy my in die middel van die nag kan wakkermaak, is (glo dit of nie) ’n lekker frikkadel of ’n sny koue souttert! My geliefde peuselgoed is geroosterde, ligsout amandels. Ek eet daagliks ’n paar hande vol. (Vreemd, want ek sit nie my mond aan marsepein nie!)

Belangrik: Enige dieetvoorkeure, dieetbeperkings, intoleransies of allergieë wat ons in ag moet neem?

Ek het geen allergieë, intoleransies of dieetbeperkings nie; slegs bepaalde voor- en afkeure wat ek almal reeds hierbo genoem het.

Ander stories op Huisgenoot.com

Kleuter in die pad veroorsaak ontstellende vragmotorongeluk

Klop só lag-lag jou hoofpyn

Gucci-advertensie verbied oor ‘ongesond maer’ model

‘Vet Vincent’ die worshond skud die kilo’s af – en jou troeteldier kan ook

102-jarige vrou stralend oor graad wat sy ontvang 60 jaar nadat sy daarmee begin het

Aantal tiere wêreldwyd styg eerste keer in ? eeu

Hulp vir deurmekaar kiesers ná adres-SMS oor munispale verkiesing