Dis noodsaaklik dat jy stem, sê Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder en stigter van die navorsings- en raadgewende maatskappy, Clear Content.

Die toekoms van Suid-Afrika is in die hande van sy mense. En, as jy nie stem nie, mag jy nie kla as dinge verkeerd loop nie.

Hier is vyf dinge wat jy moet onthou oor vanjaar se bitter belangrike verkiesing:

1. Jy het twee stemme

Kiesers sal hul merk op twee stembriewe moet maak: een vir die raadslid van jou plaaslike wyk en een vir die politieke party wat jy kies om jou distrik te bestuur.

Die wyksraadslid vir wie jy stem hoef nie aan die party waarvoor jy stem te behoort nie. “Jy kan jou stem verdeel, alhoewel dit uiters onwaarskynlik is dat baie mense dit sal doen,” sê Ralph.

2. Daar kan moontlik meer koalisies tussen politieke partye wees

In hierdie stadium is dit moontlik dat daar verskeie koalisieregerings tussen die DA en die ANC kan wees, veral in die Nelson Mandelabaai- en Tshwane-munispipaliteite.

Politieke partye vorm koalisies indien hulle nie ’n meerderheid van meer as 50 persent het nie.

Volgens Ralph maak koalisies selde ’n stabiele regering uit, aangesien daar te veel teenstrydige doelwitte tussen die partye is. Koalisies verg dat al die party tot ’n vergelyk kom, iets wat selde gebeur. “Daar gaan probleme wees," meen Ralph. “Ek dink daar lê moeilike tye vir ons voor.”

3. Daar is ’n groeiende bewuswording van die belangrikheid om te stem

Volgens Ralph ervaar Suid-Afrikaners ’n groeiende belangstelling in verkiesings en dit is ’n tree in die regte rigting vir ons jong demokrasie.

"Die basiese plig van elke landsburger is om ’n regering aanspreeklik te hou. Iets wat elkeen van ons kan doen, is om seker te maak dat die politici wat met ons belastingbetalers se geld betaal word, bekwaam en betroubaar is en hul woord gestand doen,” sê Daniel Silke, ’n algemene ontleder en direkteur van Political Futures Consultancy.

4. Die ANC se meerderheid sal afneem

Ralph reken die dae van die ANC se oorheersing is verby. “Dit sal ’n wonderwerk wees as die regerende party meer stemme kry as in die verlede. Die ANC gaan die grootste verloorder wees in hierdie verkiesing.”

Die party gaan ’n groter verlies aan steun ondervind, veral in stedelike gebiede. Leierskapskwessies rondom president Jacob Zuma, korrupsie, die gebrek aan dienslewering en ’n sukkelende ekonomie is almal redes vir die groeiende ontnugtering en woede.

"Dit is die swaks moontlike tyd vir die ANC om hul posisie te verdedig en ek dink hulle gaan dit by die stembusse voel,” sê Daniel. Die EFF sowel as die DA gaan na verwagting matige groei ondervind wat die ANC gaan “ontwrig”.

Die feit dat die opposisiepartye groei, is ’n goeie teken vir ons demokrasie, voeg Daniel by. “Dit maak dinge meer mededingend en dit ontsenu die ANC. En dis ’n goeie ding as die regerende party senuweeagtig is, want hulle sal hopelik beter regeer om so seker te maak hulle behou die mag.”

Dit is opwindend, reken Daniel. “Opposisiepartye wen veld in gebiede wat voorheen deur die ANC oorheers is – en dis nogal aangrypend.”

5. Verkiesingsdag behoort vreedsaam te verloop

Daar het heelwat geweld plaasgevind in die aanloop tot 3 Augustus, maar veiligheid sal opgeskerp word by die stemlokale en dinge behoort taamlik vredig te verloop.

Daar mag moontlik gevalle van geweld voorkom, maar hulle behoort nie die dag te bederf nie. “Ek dink nie hierdie verkiesing sal deur geweld ontsier word nie,” reken Daniel.

Het jy al jou kruisie getrek?

Deur: Gabisile Ngcobo