[caption id="attachment_149351" align="alignnone" width="600"]xx Marco is wreed deur die familie se Rottweiler aangeval. Foto: Verskaf[/caption]

Die materiaal, wat Francois Slabbert se veiligheidskamera by sy huis opgeneem het, wys hoe die gesin se Rottweiler reun sy driejarige seun, Marco, in hul erf aanval.

Dit het gebeur toe Marco Dinsdagoggend alleen by die huis saam met die gesin se huiswerker, Liesbet, was. In die video kan gesien word hoe die seuntjie in die erf voor die hond gaan staan en hom stip in die oë kyk. Dan beduie hy iets met sy armpies waarna die hond hom aanval. Liesbet kom uitgestorm en verwilder die hond.

Sy het onmiddelik vir Francois gebel wat huistoe gejaag en die hond van kant gemaak het.

“Dit was nie uit woede of om wraak te neem nie, maar om die ander mense op my erf te beskerm,” vertel hy. “Niemand sal weet of die Rottweiler weer iemand sal aanval nie.”

Francois, ’n professionele fotograaf, vertel hy is oorval met boodskappe nadat hy die video gedeel het. ’n Dag nadat hy dit gelaai het, was daar "omtrent 640 boodskappe in my inboks en meer as 360 vriendskapsversoeke".

Hy sê dis “onmoontlik om op almal te reageer of om al die versoeke te aanvaar”.

Die meeste boodskappe is van mense wat hom en sy vrou, Odette, ondersteun en wense van voorspoed en beterskap stuur, “maar dan is daar daardie sowat vyf persent wat my veroordeel omdat ek die hond geskiet het”.

Van die mense wil weet hoekom hy nie eerder die Dierebeskermingsvereninging gebel het nie. Ander mense het gedreig om ’n klagte van dieremishandeling teen hom te lê. Party het ook gevra hoekom hy nie eerder die hond kon weggee nie.

[caption id="attachment_149350" align="alignnone" width="600"]xx Marco is in die MediClinic op Welkom behandel. Foto: Verskaf[/caption]

“Dit is hartseer as mense nie verder dink as wat hul neuse lank is nie,” sê Francois. Hy het by die plaaslike DBV-tak navraag gedoen en daar is vir hom gesê dat hulle ook die dier sou uitsit.

“As ’n hond eers eenkeer ’n mens aangeval het, is die moontlikheid groot dat hy dit weer sal doen.”

Marco is in die MediClinic op Welkom behandel en die volgende dag ontslaan.

Dit gaan goed met hom, sê Francois. “Hy hardloop al weer rond en jaag moeilikheid aan!”