Dit was ’n onstuimige nag vir Lindsay Lohan.

Nadat sy ure lank op verskeie sosialemedia-platforms teen haar verloofde, Egor Tarabsov, uitgevaar het, het dié voormalige kinderster haar ganse woonbuurt vyfuur die oggend met ’n reusekabaal wakkergegil.

Verskrikte inwoners van Knightsbridge in die VK het die polisie gebel nadat hulle gehoor het die 30-jarige ster skreeu om hulp. In ’n video wat op die webblad van die Britse poniekoerant The Sun gepubliseer is, kan jy hoor Lindsay gil “Asseblief, asseblief, asseblief. Hy het my so pas gewurg. Hy het my amper doodgemaak. Almal sal weet. Gee pad uit my huis uit!” Omstanders het ook gehoor die ster skree “Doen dit. Waag dit net weer. Jy’s f****n mal. Jou siek f***er. Jy het hulp nodig. Dis my huis. Gaan uit my huis uit! “Ek’s klaar. Ek het jou nie meer lief nie. Jy het my probeer doodmaak. Jy is 'n f****n psigopaat. Ons verhouding is verby.”

Die polisie moes die deur van die aktrise se huis in die gegoede woonbuurt oopbreek, maar toe hulle binne kom, was Lindsay en haar biljoenêr-verloofde skoonveld. Die polisie het aan MailOnline gesê hulle is geroep "omdat ’n vrou na bewering getraumatiseer was," maar dat daar "niemand in die huis was nie". Lindsay en Egor is eindelik opgespoor en was albei ongedeerd. Niemand is gearresteer nie.

A photo posted by Lindsay Lohan (@lindsaylohan) on

Dié hele spektakel het gevolg nadat Lindsay ure lank op Snapchat, Instagram en Twitter teen die 23-jarige Egor uitgevaar het. Eers het sy hom gesmeek om huis toe te kom; later het sy hom beskuldig dat hy haar verneuk met ’n prostituut en toe selfs geskimp dat sy swanger is. Die Mean Girls-ster het ook in April koerantopskrifte gehaal toe daar berig is sy en Egor het na ’n blitsromanse van sewe maande verloof geraak. Haar verteenwoordiger het destyds dié gerugte ontken, maar haar pa, Michael, het die nuus oor die troue wel later bevestig. Lindsay het ook die afgelope naweek erken die verlowing aan haar vinger is eg.

A photo posted by Lindsay Lohan (@lindsaylohan) on

Dit lyk egter nie asof alles pluis is tussen die tweetjies verliefde duifies nie, want Lindsay het haar laataand-plasings Saterdagaand ingespan om haar voornemende eggenoot oor die kole te haal nadat hy na bewering laat uitgebly het om saam met ’n ander vrou partytjie te hou. "Ek was miskien ook so op 23 …” het sy op Twitter geskryf.
Sy het ook ’n foto van Egar en ’n vrou, Dasha Pashevkina, volgens Lindsay ’n prostituut, gedeel. "Wow, dankie. Dis my verloofde met ’n Russiese prostituut @dasha_pa5h," het sy sarkasties bygevoeg by ’n videogreep van Egor op ’n partytjie. Al hierdie foto-, en videoinskrywings is intussen verwyder, maar die woorde was steeds op Twitter.

Lindsay het oomblikke later ’n skakel na ’n foto van haar gedeel waarin sy ’n babamagie wys uit haar fliek Labor Pains. Die skimp was glo dat aanhangers moet dink sy is swanger.

"Lindsay Lohan se Labour Pains-opvolgprent – ek is swanger!" het sy in ’n bisarre twiet geskryf.

Dit lyk wel of Lindsay en haar kêrel hul geskil kon oorbrug, want Lindsay het vroeg Saterdagoggend ’n foto van die paartjie op Instagram gedeel waarin sy oor Egor se gesig krabbel.

Verteenwoordigers van dié dikwels gekwelde ster het nog nie kommentaar gelewer oor die beweerde swangerskap nie en ook nie aangedui of Lindsay en Egor nog bymekaar is nie.

Lindsay het ook kort ná haar 30ste verjaarsdag vroeër vandeesmaand erken dis uitputtend om romanties verbind te wees aan ’n man wat sewe jaar jonger is as sy.

"Dis moeilik om verlief te raak … veral as jy die ouer vrou is en reeds alles ervaar het,” het sy geskryf.

© Cover Media